KAROO NUUS - Charmaine van der Walt (65) is die naweek onder ongewone toestande tydens ysige weer by die Lammergeyer-bergwedloop in Lady Grey oorlede.
Die Bloemfonteinse langafstandatleet hardloop al vir 25 jaar en het volgens Netwerk 24 aan 11 Comrades-ultramarathons deelgeneem. Sy was glo vooraf besorg oor die koue weer, maar wou bitter graag aan die Lammergeyer deelneem.
Haar vrese was ongelukkig nie ongegrond nie en toestande bo in die berg waar dele van die wedloop plaasgevind het, was uiters koud en winderig. Digte mis het die atlete se sig belemmer en Van der Walt het moontlik in die digte mis verdwaal.
'n Soektog is van stapel gestuur en die plaaslike gemeenskap, wat die area goed ken, het in reën en digte mis te voet na haar gesoek, terwyl 'n privaat helikopter ook aan die soektog deelgeneem het. AfriForum en gemeenskapslede het infrarooi- en termiese beeldtoerusting ingespan en deur die nag aanhou soek.
Van der Walt se liggaam is egter Sondagoggend gevind nadat sy vermoedelik verkluim het.
Die hele gemeenskap het saamgestaan en dié wat nie besig was om te soek nie, het hulle ondersteuning op ander maniere aangebied. Die organiseerders, Pieter en Anna-Marie du Preez, het op Facebook almal vir hulle hulp bedank. Hulle het ook hul innige meegevoel met die atleet se naasbestaandes uitgespreek.
Van der Walt laat haar dogter en twee kleinkinders agter asook ‘n suster en broer. Sy het in Langenhovenpark in Bloemfontein gewoon.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’