HOFMEYR NUUS - Hofmeyr Hugs of Hope reik gereeld uit na kinders en gesinne waar daar nie altyd volop vreugde is nie. "Een van ons jare lange ondersteuners, Desiree Felix van Cradock, het ons die Donderdag voor Paasnaweek gekontak en gesê sy wil weer 'n skenking maak. Ons het 'n plan gemaak om die skenking by haar werk in Cradock te gaan oplaai," vertel Mariaan Schoeman, Hugs se finansiële bestuurder.
"Dit was so 'n groot verrassing toe Desiree 22 lekkergoedpakkies en 22 geskenkpakkies aan ons oorhandig het. Elke pakkie was pragtig opgemaak en met plakkers versier."
Elke kind in pleegsorg in Hofmeyr het 'n lekkergoedpakkie ontvang, betyds vir Paasfees, en pastoor Lubabale Matyatya het die afgelope Sondag 16 April, alle dogters wat kwalifiseer vir die geskenkpakkies, genooi om by hul kerkgebou bymekaar te kom.
Die geskenkpakkies het klere, waslappies, sepies en lekkers ingehad en al die dogtertjies tussen ses en tien jaar oud het pakkies gekry.
Gcobani Makhasi, Hugs-bestuurslid vir Eluxolweni het die pakkies oorhandig en Allen Arendts, bestuurslid vir Twinsville, het 'n groot pot bone- en sojasop en vars brode vir die kinders gemaak.
Bestuurslid van Hofmeyr Hugs of Hope, Gcobani Makhasi, (regs agter), hou 'n ogie oor die kleinspan wat sommer in die kerk hul sop eet.
Pragtig verpakte geskenkpakkies vir dogters uit swaarkrygesinne is Sondag 16 April aan 22 dogters uitgedeel.
Daar is weggelê aan boontjiesop en brood en lekker gekuier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’