ABERDEEN NUUS - 'n Hoofstraat in Aberdeen, Andries Pretoriusstraat, spog al 'n geruime tyd met die internasionaal befaamde Marguerite Beneke se wêreldklas kunsgalery.
Graaff Reinet Advertiser het op 13 Maart in die artikel Acclaimed artist opens gallery oor die opening van die galery berig.
Op 26 Augustus het nog 'n deur in dieselfde gebou oopgemaak, met die hoofdoel om "alles en almal baie mooi te maak".
Maak baie Mooi is die perfekte pasmaat vir dié galery - dit is nie 'n geskenkwinkel nie, ook nie 'n manshaarkapper nie, en beslis nie 'n koffiewinkel nie.
Gaste vanuit Aberdeen-omgewing het die openingsgeselligheid van Maak baie Mooi bygewoon en Petronel Baard en Stef Kruger het musiek gemaak.
Maak baie Mooi is 'n kosmopolitiese kombinasie van alles en nog wat, met die sonderlinge harmonisering van eksklusiwiteit en bekostigbaarheid.
Maak kennis met die eienaars van die galery, Archibald en Nikolaas KempNorval, bekende en wel geliefde Aberdeen-inwoners, en besef onmiddellik dat Maak baie Mooi eintlik net 'n natuurlike spieëlbeeld en verlengingstuk van dié twee uitsonderlik talentvolle mense is.
Hulle vertel hoe alles in die winkel self deur hulle gebou en opgerig is - hulle het ook self die winkel uitgelê en toegerus. "Ons wil hê mense moet tyd kom spandeer en net wees," nooi Archie. Niko knik instemmend en voeg by: "Ons is beslis nie 'n koffiewinkel nie, maar hier is plek en geleentheid om net rustig te raak en koffie te drink. Kom skep asem."
En vir die manne van die omgewing was die wete dat Aberdeen nou twee kundige, gekwalifiseerde kappers het, genoeg rede om hulle van gewone Saterdagmiddag-aktiwiteite weg te roep na Maak baie Mooi se bekendstelling.
Maak baie Mooi verwelkom almal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’