ROBERT SOBUKWE DORP NUUS - ‘Nostalgies Karoo’, ’n besonderse kunsuitstalling deur kunstenaar Gerrit van Wyk, gaan binnekort ook in die Kamdeboo besigtig kan word - ’n area wat hom na aan die hart lê en wat hy graag skilder.
“Gerrit, ’n gebore en getoë Graaff-Reinetter en ervare grafiese ontwerper, het ’n passie vir realistiese landskappe en geskiedkundige tonele.
Sy werk vang die hartklop van Graaff-Reinet en die Karoo op doek vas - van ikoniese historiese geboue tot stil straattonele wat herinner aan vervloë dae,” vertel Dr. Anziske Kayster van die Graaff-Reinet Museum.
Van Wyk sien daarna uit om nie net sy kuns met besoekers te deel nie, maar ook met hulle te bespreek.
Skilderye en afdrukke sal te koop aangebied word.
Die opening van die uitstalling, wat in die Ou Biblioteek in Kerkstraat gehou word, vind op 22 Mei vir genooide gaste plaas.
Kayster nooi die publiek hartlik uit om die uitstalling te kom besigtig. Dit duur tot Saterdag 30 Mei en sal Maandae tot Vrydae 08:00 - 13:00 /14:00 - 17:00 en Saterdae 09:00 - 15:00 oop wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’