GRAAFF-REINET NUUS - Behalwe dat die toestand van Affodilstraat 'n massiewe gesondheidsgevaar inhou, is dit bloot nie meer veilig vir voetgangers nie.
So sê 'n bekende geestelike leier van die Asherville woonbuurt, Biskop Freddie Slinger, wanneer hy vir Graaff-Reinet Advertiser van die gemeenskap se dilemma vertel.
Hy sê die toestand van Affodilstraat is al vir jare 'n skreiende skande.
“Die straat is 'n modderbad en 'n gemors.
Die hoërskool van Asherville is hoër op in die straat, en hierdie is die heel besigste straat in Asherville, maar ons kinders moet daagliks deur die glibberige pappery skool toe stap.
Dit is nou winter; in die somer kom hulle tuis met voete tot by die enkels van modder, en soggens kom hulle ook so by die skool aan. Nou gaan hul skoolbroeke en skoene ook deurloop."
Hy sê voertuie kan skaars die roete gebruik, want dit is nie meer 'n dubbelroete nie. "Almal moet nou in die middel van die pad deursukkel, en dis net gate en slote.
Die ergste is dat dit al vir jare so lyk.
Ons kry eenvoudig geen antwoorde nie, dit maak geensins saak waar ons rapporteer nie."
Selfhelp
Volgens Slinger het 'n verteenwoordiger 'n ruk terug gesê hy moet ophou kla en self iets doen.
"Ons mense wil help so ver hul kan, maar sonder grawe en kruiwaens gaan dit maar bars gaan," sê Slinger.
"Ons weet slote is nodig, pype moet aangelê word, afleivore moet gemaak word, en die gate moet opgevul word.
Elke huishouding sal graag help, maar ons is nie opgewasse vir hierdie taak nie.
"Die plaaslike taxidiens kla ook oor die toestand van die pad, want waar moet hulle nou mense oplaai en aflaai?
Dis dan net modder. Wat gebeur as 'n bejaarde of 'n swanger vrou gly in die modder en val en seerkry?"
Hy sê die kinders in Asherville speel ook graag krieket en sokker in die strate, maar dis bloot buite die kwessie.
"Hulle kan nie in die modder speel wat al vir maande so staan nie, hulle sal siek word. Hier is reeds 'n erge griep in omloop. Hoe beskerm ons ons kinders daarteen?"
Beligting
Behalwe vir die probleem met water wat nie afloop nie, kla inwoners ook oor die uiters swak beligting in die area.
Daar is spreiligte in Pensiestraat, maar inwoners sê dat baie van die gloeilampe lankal nie meer brand nie.
Die spreiligte in Pensiestraat sou ook baie help om sigbaarheid in Affodilstraat te verbeter, terwyl die straatlig voor Affodilstraat 9 reeds vir agt maande nie meer 'n werkende gloeilamp het nie.
"Stel jou voor, stiknagdonkerte en modder tot by jou enkels," sê Slinger.
Hy sê 'n inwoner se voertuig het al in die modder vasgeval en dat die inwoner, Mary Reed, vervolgens 'n klagte by hul raadslid ingedien het.
"Dit is regtig die eerste keer wat ek op publieke vlak kla, maar so kan dit nie aangaan nie.
Ek glo in my gemeenskap, en ek weet elkeen sal betrokke raak soos wat dit van hom verwag word, om ons omtandighede in Affodilstraat te verander," sluit Slinger af.
Begroting laat nie herstelwerk toe
Graaff-Reinet Advertiser se beriggewer, Neco Bokwe, het die munisipaliteit se IDP-vergadering op Vrydag 9 Mei in Graaff-Reinet bygewoon, waar die onderhoud van strate ook onder bespreking was.
By die geleentheid het dit geblyk dat die munisipale bestuur wel deeglik bewus is van die toedrag van sake, maar dat die begroting nie groot herstelkostes sal kan finansier nie.
Volledige beriggewing oor die IDP-vergadering sal deur Graaff-Reinet Advertiser geplaas word sodra dit beskikbaar is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’