GRAAFF-REINET NUUS - Adjudant-offisier Majola Nkohli, die Oos-Kaapse provinsiale polisiewoordvoerder, het tydens ’n onderhoud met Graaff-Reinet Advertiser gesê dat talle padblokkades oor die afgelope langnaweek op die hoofroetes rondom Graaff-Reinet gehou is, maar dat geen noemenswaardige arrestasies gemaak is nie.
Hy komplimenteer die wetsgehoorsame burgers wat van hierdie roetes gebruik gemaak het.
Die Oos-Kaap se provinsiale verkeersdepartemente het egter in ’n skoonmaakveldtog oor die afgelope langnaweek talle dronk bestuurders vasgevat.
Altesaam 101 bestuurders is reeds teen middernag op Saterdag 22 Maart in hegtenis geneem:
- 10 in die Alfred Nzo-distrik
- 28 in die Amathole-distrik
- 18 in die Chris Hani-distrik
- 2 in die Joe Gqabi-distrik
- 29 in die O.R.Tambo-distrik
- 14 in die Sarah Baartman-distrik.
Unathi Binqose, mediaverteenwoordiger van die departement vervoer, waarsku dat daar weens die naderende Paasnaweek (wat op 17 April begin) padblokkades sal wees.
Geen genade sal aan wetsoortreders betoon word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’