GRAAFF-REINET NUUS — Die erg gevandaliseerde Parmalat-gebou in Industriestraat in Graaff-Reinet het sakemanne warm onder die kraag wat sê dat dit 'n broeines vir misdaad geword het.
Bedrywighede by hierdie voormalige suiwelprodukte-depot het glo 10 jaar gelede gestaak en sowat drie jaar gelede het kwaaddoeners dit begin afbreek.
Die sakemanne sê misdadigers het hul visier nou op die bestaande besighede in die omgewing gemik nadat die Parmalat-gebou byna ten gronde gestroop is.
Een van die sakemanne, Koos Zerwick is die josie in oor inbrake en sê dit het drasties by besighede rondom die Parmalat-gebou toegeneem.
"Dit het vandale gelok wat die hele gebou kaal gestroop het, en nou probeer om ons besighede af te breek siende dat daar nou niks meer oor is van hierdie gebou nie."
Hy sê misdaad het toegeneem ten spyte van klagtes wat by wetstoepassers ingedien was.
Zerwick sê misdadigers vermink sakeondernemings se infrastruktuur. "Hulle knip gate uit die heinings om toegang tot die perseel te kry. As die een gat reggemaak word, maak die diewe 'n ander een."
Nog 'n sakeman wat direk langs die Parmalat-gebou geleë is, Johan Botha, het gesê hy het met tyd gesien hoe die plek afgebreek word en dat sy besigheid ook al deurgeloop het onder die misdadigers.
Botha sê gedurende Desember verlede jaar het diewe bykans R100 000 se gereedskap vanuit sy werkswinkel gesteel.
"Dit is 'n hengse probleem. Ek moet soms elke tweede aand opstaan want dan gaan die bewegingsopsporingstelsel af. Die misdadigers gebruik ook my perseel as 'n deurpad om toegang tot die ander besigheidspersele te verkry," het Botha gesê.
Hy sê dat hy ook al die probleem verskeie kere by die polisie aangemeld het, maar daar het niks van gekom nie.
Botha sê hy het ook al gesien hoe een van die ander besighede se sekuriteit die kwaaddoeners gehelp het om die gebou te vandaliseer.
Hy sê die sekuriteits-ouens het sinkplate met 'n koevoet losgemaak.
"Dit was 'n ordentlike operasionele gebou, maar niemand het later meer omgegee nie."
Volgens 'n woordvoerder van Parmalat, Zelrese Brair, het Parmalat die gebou verkoop.
"Ons het die gebou verkoop en dit behoort nie meer aan ons nie," het Brair gesê.
Brair wou egter nie sê aan wie die gebou tans behoort nie.
Die vervalle Parmalat-gebou wat misdadigers lok. Foto's: Jason Milford
Johan Botha het gesê dit was eens op 'n tyd 'n ordentlike operasionele gebou.
Netjies gepakte boustene wat deur vandale versamel word.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'