MIDDELBURG NUUS - Die Beheerliggaam van Hoërskool Middelburg het Woensdag, 13 Mei 2026, ’n kennisgewing uitgereik dat die skool vanaf Maandag, 18 Mei, tot verdere kennisgewing gesluit sal wees.
Volgens die Beheerliggaam is hierdie moeilike besluit geneem weens die Departement van Onderwys se volgehoue versuim om sy verpligtinge rakende die aanstelling en betaling van onderwysers na te kom.
Die Beheerliggaam voer aan dat die skool sedert 2025 genoodsaak was om onbetaalde salarisse uit eie beperkte fondse te betaal.
Na bewering het die skool tot op hede reeds meer as R700 000 aan salarisse uitbetaal wat die Departement wetlik verplig was om te betaal.
“Ons kan nie meer hierdie finansiële las dra sonder om die voortbestaan van die skool in gevaar te stel nie,” sê die Beheerliggaam.
Die Beheerliggaam voer verder aan dat hulle die impak op leerders en gesinne verstaan, maar dat die skool nie kan voortgaan om te funksioneer wanneer die Departement versuim om die nodige menslike en finansiële hulpbronne te voorsien wat wetlik vereis word nie.
By navraag het die skool dié dreigende sluiting bevestig, maar kon ongelukkig geen kommentaar lewer nie.
’n Navraag is aan Malibongwe Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse Departement van Onderwys, gerig en sal gepubliseer word sodra hy reageer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’