GRAAFF-REINET NUUS - Aberdeen se dorpsgebied het verlede jaar een van die droogste Desembers in jare ervaar met nie 'n enkele druppel reën vir die hele maand nie.
In Desember 2023 is die dorp geseën met 19 mm. Nadat Januarie vanjaar ook begin het as 'n oënskynlik droë en uiters warm maand met temperature wat in die hoë dertigs gebly het, het heelwat reën in die tweede helfte van die maand welkome verligting gebring.
Die reënval gemeet vir Januarie vanjaar was 46.5 mm teenoor 15 mm in Januarie verlede jaar.
Histories is Februarie as die warmste, maar ook natste, maand van die jaar opgeteken. In Februarie 2023 het 'n bevestigende 92 mm reën geval, maar verlede jaar het 'n skamele 3 mm opgelewer.
Sover, volgens AccuWeather se weervooruitskouing vir Februarie, kan Woensdag 12 Februarie die warmste dag van die maand wees met 'n verwagte 37°C. Die res van die maand se temperature word geskat op lae tot middel 30's.
Volgens dieselfde vooruitskouing lyk dit egter asof Februarie 'n droë maand kan wees. Maar, soos een van die gesoute Aberdeners dit stel: "... vergeet wat 'n komper-skerm jou wil leer; kyk na die miere en die reënblomme en rig jou oë na Bo.
Intussen, maak skoon jou geute, lap jou dak en onthou: bid vir reën met 'n sambreel in jou hand, en jy's reg vir wat kom: hitte of reën..."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’