GRAAFF-REINET NUUS - Hoewel gemoedere hoog loop nadat die konsepdokument wat veranderinge aan die huidige mediese nooddienste-stelsel (EMS) voorstel, versprei is, is die vergadering op 4 Julie in die Alex Lain Library Hall in Graaff-Reinet uiters swak bygewoon.
“Talle leë stoele was ’n bewys dat die inwoners moeg baklei is, en dat hierdie gemeenskap hul totaal distansieer van die belangrikheid van nooddienste in die betrokke gemeenskappe,” sê DA-raadslid Eldridge Ruiters.
Die vergadering, wat gelei is deur die Dr Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit-raadslid Thembile Spogter, is slegs deur vyf gemeenskapslede bygewoon, maar raadslede vanaf Aberdeen, Willomore, Graaff-Reinet, Jansenville en Klipplaat was teenwoordig, asook die EMS personeel.
Die EMS se bestaande uitdagings bly steeds 'n beperkte begroting, beperkte hulpbronne, en uitdagings met betrekking tot geografiese verspreiding, infrastruktuur, taalhindernisse en wagtye, asook 'n gebrek aan interregeringsverhoudings en -betrokkenheid.
Al hierdie kwessies is bespreek, maar sonder die toetrede van gemagtigde amptenare soos die LUR, distriksgeneesheer en distriksbestuurders, kan nie tot daadwerklike aksie oorgegaan word nie.
Die EMS-span het egter die versekering gegee dat hulle hul bes doen met die beperkte hulpbronne wat beskikbaar is.
Daar word ’n vergadering in die vooruitsig gestel waar die LUR, die distriksgeneesheer en die distriksbestuurders teenwoordig moet wees voordat enige verskuiwings mag of sal plaasvind.
Een ding het egter soos 'n paal bo water gestaan: die inwoners van Aberdeen en die omliggende dorpe is oortuig dat die verskuiwing van die oproepsentrum na Gqeberha tot lewensverlies sal lei.
Almal verkies om te hou by die huidige 400-oproepe-per-dag-sentrum eerder as om ingesluit te word in Gqeberha, waar 1 800 oproepe per dag hanteer moet word deur personeeel wat geen idee het van die afstande en die omgewings waarheen ambulanse gestuur moet word nie.
Daar word ook gevrees dat die skuif sal veroorsaak dat slegs 200 oproepe per dag hanteer sal kan word, in plaas van die huidige 400 waarop daar reageer word.
In die lig van die swak bywoning van die vergadering het ’n versoek uitgegaan dat die boodskap van die moontlike verskuiwing van die EMS skakelsentrum wyer versprei moet word, aangesien inwoners van omliggende dorpe ingeligte besluite moet kan neem.
Die EMS het ook benadruk dat hul kantore altyd sal oop wees vir kommunikasie met die gemeenskap, en het lede van die gemeenskap genooi om afsprake te maak indien nodig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’