STEYNSBURG NUUS - Tienie Potgieter (65), van Durban, het kort ná sy 65ste verjaardag na die Marais Steyn-tehuis in Steynsburg verhuis, nadat hy in die gasvryheidsbedryf werksaam was.
“Ek het ’n groot voorliefde vir wêreldwye kookkuns, maar het my lewe lank ’n passie vir broodbak gehad en het dié kuns vir myself geleer,” vertel Potgieter.
Ná sy nesskop het die broodbaklus oorgeneem, en hy het by die tehuis se kombuis gaan aanklop en aangebied om broodrolletjies vir hamburgers en boereworsbroodjies te bak.
“Die inwoners was gaande oor die varsgebak, want dié keer was dit nie bakkery-kitsgisbroodrolletjies nie, maar outydse suurdeegbrode. Die suurdeeg verg ’n volle 72 uur se rystyd voordat daar gebak kan word.”
Tydens die Graaff-Reinet Advertiser se besoek aan Potgieter by sy woonstel op die terrein, was daar talle deegmengsels aan die rys, en die suurdeegplantjie - hierdie keer ’n druiwesuurdeeg vir mosbolletjies - het gesellig in die agtergrond gegis.
Die suurdeegbrode en soetsuurdeegbrode wat Potgieter produseer, word nie met kitsgis gebak nie en word deur die publiek van Steynsburg opgeraap.
Hy moes nou ook al ’n bemarker aanstel, en die haarkapster by die tehuis vervul sommer ook dié rol, aangesien sy ook die voorsitter van die beheerraad is.
Op navraag het Potgieter tientalle foto’s van sy tuisgebakte brode beskikbaar gestel, en volgens inligting vanuit die tehuis is die smaak van die brode onverbeterlik.
Boonop is die brode ook gesond, want “twee dokters het nou ook al by my brode bestel,” vertel Potgieter beïndruk.
Die wonder van hierdie broodbakkery is dat daar nou ’n golf van opgewondenheid deur die tehuis rol wanneer Potgieter aankondig dat hy gaan knie.
Hy knie self en verduidelik dat elke brood sy eie tegniek verg: “Want as Tienie gaan knie, weet elkeen in die tehuis dat daar met die volgende ete van sy spesiale brood op die spyskaart is!”
Focaccia met knoffel en roosmaryn is ’n gunsteling, asook focaccia provinsiaal.
Panini’s, pita’s, soetbrood met heuning in die deeg, Duitse rolletjies, potbrode, aartappelsuurdeegrolletjies, bokmelkbrode, volkoringbrood, mosbolletjies met of sonder anys, challah, bagels, pretzelbroodjies, brioche, naanbrode, pull-apart knoffelbrode, vrugtebrode en focaccia-pizzas kom alles uit sy, of die tehuis se, oond te voorskyn.
Hy bied ook opleiding aan.
Wanneer ’n man aftree en die geleentheid kry om sy ware talente te benut, dan is daar altyd brode in sy oond.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’