KAROONUUS - Op die vooraand van die Amerikaanse presidentsverkiesing waar daar vir die eerste keer ooit 'n vrou die leisels mag neem, is daar ook by Grootfontein Landboukollege vir die eerste keer 'n vrou as president van die studenteraad verkies.
Studente by die kollege in Middelburg het onlangs hulle nuwe studenteraad verkies, maar na die stembriewe getel is, is die verkiesing van die SR-president as gelykop verklaar.
Op 31 Oktober het studente teruggekeer na die stembus, waar die DA Studente-organisasie (DASO) se Sisipho Sijako geskiedenis gemaak het deur die eerste vrou te word wat as SR-president in die 123-jarige geskiedenis van Grootfontein verkies is. In totaal het DASO 15 uit die 19 verkiesbare setels regoor die SR en huiskomitee gewen.
Heinrich Muller, LP en DA Ooskaapse Middelandse Kiesafdelingsleier, sê die vertroue wat studente in DASO het, is herbevestig toe DA-kandidate tot die meerderheid van die top SR-leierskapposisies verkies is.
Hy sê dit weerspieël 'n groeiende jeugsteun vir die DA, nadat DASO ook onlangs 'n groot oorwinning in die Nelson Mandela-Universiteit se SR-verkiesing behaal het.
Muller sê studente verdien 'n eerlike en sorgsame regering, en DASO sal dit voorsien. Daar word geglo dat 'n effektiewe SR toeganklik, reaktief, deursigtig en verantwoordbaar moet wees vir die behoeftes van die studentekorps.
Muller sê DASO sal werklike leierskap lewer en nuwe geleenthede by Grootfontein skep terwyl hulle aanhou veg dat geen student agterbly nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’