KAROO NUUS - Yusuf Cassim, lid van die Oos-Kaapse parlement en DA-hoofsweep in die Oos-Kaapse wetgewer, het verlede week met skok reageer op premier Oscar Mabuyane se plan om die provinsiale staatsrede (SOPA) in Ntabankulu aan te bied en dit as geldmors bestempel.
Die beplanning en logistiek vir die staatsrede het glo daartoe gelei dat dit verskeie kere uitgestel is en die staatsrede vind nou uiteindelik vandag, 1 Augustus plaas - meer as twee maande na die verkiesing.
Om die staatsrede in Ntabankulu, 379 km van Bhisho te hou, bring aansienlike reis- en verblyfuitgawes vir die 72 lede van die wetgewer en verwante personeel teweeg.
Cassim sê die Oos-Kaap is in 'n ekonomiese resessie en kan dit allermins bekostig.
Hy sê nie alleen mors die premier geld nie, maar het hy ook die afgelope twee maande regeringstoesig verhoed, aangesien geen portefeuljekomitees tot ná die eerste SOPA kan sit nie.
"Interne vraestelle, 'n noodsaaklike hulpmiddel om departemente tot verant-woording te roep, het ook tot stilstand gekom, aangesien geen vrae ingedien kan word totdat die eerste sessie van die nuwe kwartaal begin, wat ná die SOPA-rede is nie."
Cassim sê die premier het hom regdeur sy vorige ampstermyn beywer vir kostebesnoeiing oor alle staatsdepartemente heen, maar sien dit nou goed om miljoene op 'n geleentheid te mors terwyl daar reeds 'n geskikte plek is.
Cassim het die sekretaris van die wetgewer, Nomawethu Ngcakani, gevra vir 'n uiteensetting van die koste.
Daarbenewens onderneem hy om formeel te versoek dat alle toekomstige geleenthede binne die wetgewer-gebied gehou word om uitgawes te minimaliseer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’