BARKLY-OOS NUUS - Rooivleisprodusente en ander belanghebbendes het onlangs by die Mountain Shadow Hotel in Barkly-Oos byeengekom, waar dr. Jaco de Villiers, stigter van die Rooivleis Aksiegroep as die gasspreker was.
De Villiers is ’n bekende in beesboerderykringe, en dra veral die rooivleisprodusente se belange op die hart.
Hy het ook 21 jaar se ondervinding van die boerderyreddingsbedryf agter die rug.
“Het boere ’n gewete?” is sy eerste vraag. En dan die allerbelangrike vraag: “Is jy jou broer se hoeder; kyk jy na jou buurman deur dik en dun; gee jy raad waar nodig?”
Hy stel dit ook dat talle boere met niemand oor die weg kom nie, en reeds ook uit hul kerke uitgewyk het.
Sulke boere het reeds hul eksterne gewete afgeskryf.
“Natuurlik is boere in ’n ongenaakbare posisie, en al wat daarvoor gaan help is om anders te begin dink en doen. Maak ’n massiewe paradigmaskuif.
Bepaal jou doelwitte, en bepaal jou behoeftes. Wat is jou posisie vandag? Wat moet jou posisie wees?”
Op hierdie stadium verkoop boere dikwels hul opbrengs aan onbillike en onredelike ‘agente’ vir voerkrale.
Hierdie agent ken jou, en hy weet reeds voor jy praat wat jou huidige posisie is.
Wat bemark jy?
Bemark jy ’n gesonde dier, pas van sy ma af gespeen? Die mark in die Oos-Kaap en Noordoos-Kaap word van Maart af toegegooi met sulke diere.
Dit veroorsaak natuurlik dat pryse drasties daal. Dikwels ‘moet’ boere dan verkoop!
Uit die groep teenwoordiges is daar bepaal dat daar bykans 5 000 diere per jaar bemark kan word.
“Die wenresep onder die huidige situasie sou ’n gevestigde, georganiseerde, geoliede bemarkingsgroep wees. Eintlik moet afslaers markaanwysers wees, maar dit gebeur deesdae dikwels dat hulle slegs verkoop.”
De Villiers vra die boere ook vir wie hulle werk, en vir wie hulle hul hele lewe lank gewerk het?
Werk jy vir die bank wat jou finansier en nie wil hê jy moet voortgaan nie? “Sou jy nie eerder na welvaart wil skuif as om bloot net te oorleef nie?
Skep dus jou eie welvaart, want niemand gaan dit vir jou doen nie. Speentyd is nie verkooptyd nie.
Oestyd van jou lande is nie bemarktyd nie.
Plaas jouself in die posisie dat jy jou eie prys kan bepaal. Bepaal jou kalfprys wanneer jy jou bul by jou koeie insit. Stel jou eie teiken!”
Navorsing het getoon dat boere se insetkoste met 94% gestyg het, maar hul inkomste met slegs net 1,2%. Die somme klop nie.
Hulle sukkel om saam te stem, en saam te staan, maar hulle is almal van hul kontantvloei afhanklik.
De Villiers moedig boere aan om ’n prospektus of sakeplan op te stel voordat hulle na hul finansieringsinstelling of landboukoöperasie gaan.
Sorg dat jou produk naspeurbaar is, maar hou jou inligting teen jou bors. “Boere moet weet deur wie hulle bemark, en jy mag vir daardie persoon vir sy Fias- en Fica-sertifiserings vra.".
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’