DORDRECHT NUUS - Die bekende Karookunstenaar, Annari Oosthuysen, het die afgelope week groot belangstelling gelok met haar “Dierbare Donkie Skilderdag”, wat sy in samewerking met die NG Gemeente in Dordrecht aangebied het.
Oosthuysen, wat op ’n plaas naby Lady Grey grootgeword het, het haar liefde vir donkies met die bywoners gedeel en beklemtoon dat hierdie diere deur die eeue heen ’n besondere simboliek dra.
“Het jy geweet dat die donkie die enigste dier in die wêreld is wat ’n kruis op sy rug het?” het sy verduidelik.
“Jesus, die Messias, het Jerusalem binnegegaan op die rug van ’n donkie, en Hy het dit verlaat aan ’n kruis.”
Sy het daarop gewys dat die donkie nie net in die Bybel as simbool van nederigheid, diensbaarheid en vrede voorkom nie, maar ook in die alledaagse lewe ’n belangrike rol speel.
Boere gebruik byvoorbeeld donkies om vrede tussen bulle te bewerkstellig en om vee teen roofdiere te beskerm.
Vir Oosthuysen is donkies nie net ’n tema in haar kuns nie, maar deel van haar lewensverhaal.
Sy onthou nog hoe die mak donkies van haar kinderdae handtassies en paneelkissies vir lekkergoed uitgesnuffel het, en selfs die huis binnegestap het om saam aan die koffietafel ’n koekie te kom bedel.
“’n Nederige donkie dra die heilige simbool van hoop, diensbaarheid en God se plan,” het sy benadruk.
Ds. Elsje Büchner van die NG Gemeente het saam met Oosthuysen die dag nog meer besonders gemaak, en besoekers is aangemoedig om self die simboliek van die donkie op doek vas te lê.
Oosthuysen reis tans deur die Karoo om haar skilderklasse aan te bied, en die Dierbare Donkie-projek beloof om nog vele dorpe se harte te verower.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’