KAROO NUUS - Ek het Oom Klaas al voorheen gevra oor die geheim van die liefde – wát maak 'n verhouding werk en hou. Hy't dit toe weggepraat. Vandag pla ek weer: "Oom Klaas, wat is die geheim van 'n suksesvolle vir-altyd-verhouding?"
"Drie goed: 'n Gehoorsame, gulsige hond; sterk, soepel nekspiere, en gesonde tande," antwoord hy terwyl hy 'n knippie sout oor sy skouer gooi. Hy maak vir ons 'n regte egte Karoo-brekfis met skaapwors, eiers en roosterkoek.
"Die hond het jy nodig van die eerste dag af wat jou vrou vir jou kosmaak. Leer jou hond voor die tyd om, wanneer jy by die tafel aansit, altyd onder die tafel by jou voete te lê. Vir ingeval. Nooit, ooit – en hoor my mooi: NOOIT OOIT bedank jy NIE jou vrou vir haar moeite om JOU honger te stil nie. Jy komplimenteer haar kos altyd en bly altyd dankbaar vir wat op jou bord verskyn. Maar 'n man bly ook maar mens – so sorg dat jou hond ALLES eet wat jy hom voer. 'n Gehoorsame, gulsige hond by jou voete waarborg vrede vir járe om te kom.
"JY hoef regtig nie áltyd die hoof van die huis te wees nie. Tussen die hoof en die nek, is die nek die een wat die hoof draai net waar hy hom wil hê. So, of jy nou die nek is en jou vrou die hoof; en of sý nou die nek is en jý die hoof, maak seker die een met die nek het die sterk en soepel spiere. Kyk maar wat gebeur as 'n voertuigbestuurder nie sy nek kan draai nie: ongeluk wat wag om te gebeur. Selfde in 'n huishouding met 'n goeie hoof maar 'n stywe nek.
"Gesonde tande is noodsaaklik. Tandpyn is die ergste in die lewe, want maak nie saak wat gebeur nie, jy kan maar altyd op jou tande byt en nog weer 'n plan maak. Maar het jy al op jou tande probeer byt terwyl jy net nie dood van die tandpyn nie, huh? Met gesonde tande is 'n glimlag maklik; kan jy jou mond toebyt om nie kwetsende woorde te laat ontsnap nie; kan jy deur ander pyne byt; en kan jy in moeilike dae vasbyt.
"Maar op 'n ernstige noot: nie drie goed nie ... die geheim is drie woorde. En met daai drie woorde het 'n man met die naam van André P. Brink sy destyds verbande boek Kennis van die Aand afgesluit: Nogtans desnieteenstaande omdat. En die sleutel tot die geheim is in die eerste sin van daardie selfde boek: Om te weet wie ek is.
Die resep is maklik – vra jouself gereeld hoekom jy die een wat jy liefhet, lief het en antwoord deur elk van daardie woorde te gebruik in jou antwoord. My Dina sal byvoorbeeld antwoord dat, al saag ek balke, het sy nogtans 'n sagte plekkie vir my; en desnieteenstaande al my tekortkominge, dra ek haar hoog. En die omdat is mos maklik – dis al die aangename goete.
Nou, die sleutel: jy moet lewe en jy moet liefhê om te weet wie jy is. En wanneer jy weet wie jy is, sal jy regtig kan lewe en liefhê."
Oom Klaas beduie ek moet opskep. Terwyl ek naderstaan, proe ek die woorde: Om te weet wie ek is. Miskien is dit nie net die liefde se sleutel nie, maar inderdaad die dikwels ontwykende sleutel tot 'n werklik vervulde lewe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’