GRAAFF-REINET NUUS - ’n Koerant wat in goud gedruk is, is nie iets wat mens aldag raakloop nie - en as dit sou gebeur, sou mens dit eerder in Europa of Amerika verwag as in Suid-Afrika.
Tog is ’n ‘goue’ koerant al hier op eie bodem gedruk, in Graaff-Reinet!
Graaff-Reinet Advertiser het onlangs tydens ’n besoek aan Gqeberha iemand raakgeloop wie se wortels in Graaff-Reinet diep lê.
Tydens die gesprek met Nico van der Westhuizen, wat in Gqeberha as ’n “trekkerdokter” bekend staan, noem hy dat hy in besit is van ’n Graaff-Reinet Advertiser wat in goud gedruk is.
“My blootstelling aan die Graaff-Reinet Advertiser was van my vroegste skooldae af. Destyds was die Advertiser, soos dit algemeen bekend was, in besit van die Knott-Graig-familie,” vertel hy.
“Die Advertiser gedruk in goud, van 4 Maart 1898, is deel van ’n nalatenskap van my oupa, Lawrence Meintjies Neser, wat deur die geslagte oorgedra is. Ek het ook ’n Advertiser van 7 Maart 1898, maar in gewone swart ink.”
Waarom die goue oplaag?
Dit kom voor dat die goue koerant, gedateer 4 Maart 1898, ’n spesiale uitgawe was ter viering van die opening van die spoorlyn tussen Middelburg en Graaff-Reinet die vorige dag, 3 Maart 1898.
Bokant die koerant se naam op die voorblad staan die woorde: ‘Railway opening number’.
Die 146,5 km-spoorlyn het die weg gebaan vir beter administrasie en ekonomiese integrasie in die Oos-Kaap.
In ’n area waar ossewaens tot op daardie stadium die hoofvorm van vervoer was, kon goedere, vee en mense nou baie vinniger vervoer word.
Die spoor het Graaff-Reinet met die nasionale spoornetwerk verbind en het dus ’n belangrike rol in die dorp se ontwikkeling en ekonomie gespeel.
Neser familie
Hoe die koerant in besit van die Neser-familie gekom het, is ’n interessanteid op sy eie.
Die geskiedenis van die Neser-lyn in Suid-Afrika begin met Augustus Tiberius, gebore in Rotterdam op 9 Desember 1766, wat in 1783 na Suid-Afrika gekom het. Een van sy seuns was Charles Augustus Neser, gebore in Uitenhage op 20 Oktober 1827.
Charles het sy professionele lewe waarskynlik as prokureur in Philippolis begin. Hy was ook ’n afslaer, maar sy invloed het veel wyer as dit gestrek.
Hy het ten minste twee termyne as burgemeester van Graaff-Reinet gedien en was ook ’n direkteur op die Graaff-Reinet Raad van Eksekuteurs.
Sy seun Robert Hart Neser - Nico se pa - het later tot sy aftrede as sekretaris/bestuurder op hierdie raad (vandag bedryf as Gerber, Gouwer & Botha) gedien.
Charles was ook instrumenteel in die bou van Graaff-Reinet se hoof-waterbron, die Van Rhyneveldspasdam, wat vandag as die Nqwebadam bekend staan.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’