KAROO NUUS - Dié gogga om sy eie duiwe te vlieg het al van kleintyd af vir Ian Maré (9) gebyt.
Hy het saam met sy pa, Petrie Maré, van so jonk soos een jaar en elf maande oud na mandjieaande gegaan om die duiwe wat aan die naweek se komende wedstryd gaan deelneem in te skryf.
Ian is 'n gr. 3-leerder aan Laer Volkskool en hy is baie lief vir diere. Petrie neem hom oral saam wanneer duiwe medisyne moet kry, en doen Ian waardevolle ondervinding op wat hom vorentoe gaan help wanneer sy duiwe dit nodig het.
Wedvlugduiwe neem slegs in die winterseisoen van Junie tot einde September aan kompetisies plaas, die rede hiervoor is dat die duiwe dan besondere lang afstande kan aflê sonder om te warm te kry.
Petrie neem weekliks aan kompetisies deel en berig die Advertiser gereeld oor al Karoo-hokke, die naam waaronder hulle vlieg, se uitslae. Ian het sowat drie jaar gelede vir sy pa gevra of hy sy eie duiwe kan kry om aan kompetisies deel te neem - daar was net een voorwaarde; die duiwe moet wit wees. Dit was die begin van 'n besondere liefde vir die sport, en teel Ian vandag met sy eie duiwe.
Ian het in 2022 aan sy eerste junior afdeling kompetisie van Merino-posduifklub deelgeneem, en het is hy as junior kampioen gekroon.
In 2023 by die gogga ook sy sussie, Carla, en wou sy ook met alle mag haar eie duiwe hê om te vlieg. Die Graaff-Reinet Merino-posduifklub het tans vyf junior lede, drie seuns en twee dogters, en met die ywer wat 'n jongman soos Ian die sport benader, is dit ook nie verrassend dat hy in die junior-afdeling koning kraai nie.
Volgens Petrie is Ian baie kompeterend en maak dit hulle soms moedeloos as hy net wil wen. "Selfs as hy tennis vir die o. 10-span speel wil hy net wen, en wanneer jy hom vra wat die lekkerste deel van wedvlug is, antwoord hy baie beslis dat om te wen die lekkerste is.
Petrie vertel dat baie faktore 'n rol speel vir jou duif om te wen - afstand, die windrigting, genetika en gesondheid. "So niemand kan voor die tyd se watse duif gaan wen nie."
Ian vertel dat vliegduiwe baie slim is om so ver losgelaat te word en dan te weet in watter rigting om te vlieg sodat die duif weer sy huis vind.
"Ek kan dit nie glo nie. Ek hou baie daarvan om duiweklub toe te gaan op Donderdagaande waar ek dan my duiwe se ringnommer op die rekenaar skandeer. Hulle word dan in die mandjies gesit en op 'n trok gelaai wat hulle na 'n ander dorp neem. Saterdagoggend word die duiwe in die ander dorp vrygelaat en moet die duiwe terugvlieg Graaff-Reinet toe. Dit is baie lekker om op 'n Saterdagmiddag te sien, doer bo in die blou lug kom my duif afgepyl na sy hok toe."
Indien jy sou belangstel om deel te wees van die Graaff-Reinet Merino-posduifklub, kan jy David Hampton, voorsitter van dié klub skakel by 079 522 7838.
Ian se duif wat verlede naweek gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’