OOS-KAAP NUUS - Die voormalige apartheidspolisiebevelvoerder Eugene de Kock getuig tans in die verhoor na aanleiding van die moorde op die Cradock Vier in 1985.
Die geregtelike doodsondersoek na die moorde op die Cradock Vier is op Maandag 23 Maart in die hooggeregshof in Gqberha het hervat met De Kock se getuienis.
Die Cradock Vier - Matthew Goniwe, Fort Calata, Sicelo Mhlauli en Sparrow Mkonto - was anti-apartheidsaktiviste wat in Junie 1985 ontvoer is nadat hulle ’n vergadering van die United Democratic Front in Gqeberha (toe Port-Elisabeth) bygewoon het.
Dié vier is nooit weer lewend gesien nie, en hul liggame is digby Blouwaterbaai gevind. Hulle was oënskynlik gemartel en hul liggame verbrand.
Eugene de Kock
De Kock sou in Oktober 2025 in die geregtelike doodsondersoek getuig het, maar hy was op daardie stadium gehospitaliseer vir vermoedelike hartversaking.
As voormalige bevelvoerder van die Vlakplaas-veiligheidspolisiebasis, het De Kock vantevore getuienis afgelê voor die Waarheids- en Versoeningskommissie.
Prokureurs wat voormalige apartheidsveiligheidsbeamptes verteenwoordig, het gevra dat die verrigtinge uitgestel word totdat hy kon verskyn.
De Kock is destyds tot twee lewenslange vonnisse plus 212 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol as hoof van die apartheidsera-polisiedoodseskader C10, wat verantwoordelik was vir talle moorde, ontvoerings en ander misdade teen anti-apartheidsaktiviste.
Hy het vervolgens 20 jaar tronkstraf uitgedien en is in 2015 op parool vrygelaat.
Bantu Holomisa
Die getuienis van die UDM se Bantu Holomisa is in Oktober aangehoor toe hy inligting gedeel het rondom die sogenaamde ‘Sein’, ’n dokument wat na bewering die “permanente verwydering” van die Cradock Vier gelas het.
Op daardie stadium het hy verskeie senior veiligheidsbeamptes geïdentifiseer as betrokke by die orkestrering van die moorde.
‘Nie betrokke’
De Kock het getuig dat hy “hoegenaamd nie by die moorde op die Cradock-vier betrokke was nie”, en het gesê dat die vier slagoffers bloot aktiviste was, wat nie deur die destydse regering as terroriste gesien is nie.
Getuienis is ook gelewer met betrekking tot die betrokkenheid van ses veiligheidspolisielede, wat almal sedertdien oorlede is.
De Kock het ook getuig dat Vlakplaas nie betrokke was by die moorde op die Cradock-vier nie, maar dat daar wel betrokkenheid by die moorde op die Pebco-drie, van die destydse Black Civic Organisation, was.
Die saak duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’