OOS-KAAP NUUS - Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Suid-Afrika is dikwels die eerste mense wat reageer nadat verwoestende veldbrande die natuur verswelg het, soos onlangs in groot dele van die Oos- en Wes- Kaap gebeur het.
Dit was ook die geval op Sondag 11 Januarie, toe spanne van die DBV die gebied rondom Pearly Beach en Stanford deursoek het nadat groot dele fynbos deur vlamme vernietig is.
Die DBV sê hul reaksiespanne was op die voorste linies en het dikwels teen die vlamme gejaag om dierelewens te red.
“Die verwoesting is erg - honderde diere het dit nie gemaak nie, maar te midde van die hartseer was daar klein oomblikke van hoop,” sê Belinda Abraham, woordvoerder van die Wes-Kaapse tak van die DBV.
Alhoewel meer as 100 skilpaaie dood gevind is, kon 13 gered word en in veilige gebiede vrygelaat word.
Drie beseerde skilpaaie ontvang tans deurgaans dringende sorg.
Dit was vir die span ’n hartroerende oomblik van deernis toe een klein oorlewende skilpad ’n welverdiende drankie van vars water en ’n bad geniet het nadat dit gered is.
In ’n besonderse voorval is ’n slang met ’n brandwond gered, en hoewel verskeie voëls en knaagdiere nie oorleef het nie, het die DBV wel voëllewe gevind. ’n Paar knaagdiere is ook na veiligheid verskuif.
Tydens reddingsoperasies het die DBV honderde beeste, skape en perde op nabygeleë plase nagegaan en almal is veilig en ongedeerd.
Die DBV bly afhanklik van bydraes, gebede en positiewe boodskappe wat hul reaksiespanne deur die moeilike oomblikke help wanneer al wat hulle kan doen is om ondersoeke uit te voer en deur swaar en hewige verliese te werk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’