CRADOCK NUUS - Cradock-diereskuiling sal dalk eersdaags vir goed hulle deure moet sluit, na 'n verrassingsbesoek van die Dierebeskermings-vereniging (DBV) op Maandag 6 Mei. Verskeie voorwaardes en eise, om die instansie se deure oop te hou, is deur die DBV neergelê.
Vereistes sluit in dat alle diere 'n gebalanseerde dieet moet ontvang, meer personeel aangestel moet word, die maksimum aantal honde toegelaat nie 'n totaal van 75 mag oorskry nie (die getal moet vanaf 1 Junie en voortaan gehandhaaf word) asook dat vlieëvangers in die omgewing waar die honde aangehou word, gehang moet word.
Karin Human, bestuurder van Cradock-diereskuiling sê dat hierdie besoek op 'n Maandagoggend plaasgevind het, en dat die inspekteur saam met die werkers by die skuiling opgedaag het. "Ons personeel werk nie op Sondae nie," sê Human.
Cradock-diereskuiling is die enigste heenkome in die omgewing vir verwaar-loosde, siek, en rondloperdiere, en dié NPO word gereeld oorval deur versoeke om diere te red. Human vertel dat sy die instansie saam met haar man, Herkie, asook Jacques Gerber en Mariska Marx, bestuur.
Hulle werk elke naweek as vrywilligers by die skuiling, en gebruik Saterdaeoggende as fondsinsamelingsgeleenthede wanneer hulle pannekoek by besighede verkoop. "Daarsonder is daar nie salarisse vir die personeel wat wel in diens is nie," vertel Human.
Sy vertel dat kort nadat sy die skrywe vanaf die DBV ontvang het, sy die nuus met ondersteuners op sosiale media gedeel het. "Ons het onmiddellik donasies vanuit die Cradock-gemeenskap ontvang om van die vereistes aan te spreek."
Die vereiste dat sy haar honde voor 1 Junie moet verminder laat Human met baie vrae, "Hoe raak mens van jou kinders ontslae?"
Tot op 21 Mei kon Human die getal honde verminder na 97, met 'n verdere vyf aannemings wat hangende is. 'n Vervoer-maatskappy in Cradock het ook aangebied om diere wat aangeneem word, gratis te vervoer tot by hulle nuwe eienaars.
Human sê dat sy nooit ingelig is oor die wetgewing nie. Frikkie Coetzee, senior vennoot van Coetzee Venter Prokureurs in Cradock sê dat volgens wetgewing die DBV 'n mandaat het om enige instansie of privaat woning waar diere aangehou word te mag besoek en aanbevelings te maak indien nodig.
Vir Human is dit 'n bitter pil, want, voer sy aan, al haar diere is veilig in hokke met warm beddens en ontvang twee keer per dag water en etes.
"Ons gee pap, maar daar is hondpille of wors, vleis en soms hoender in. Benewens alles gaan siek diere veearts toe of word diere geneem vir sterilisasies, inentings en ontwurming," sê Human.
Vir Human sal die hoogtepunt wees wanneer alle diereskuilings én die SPCA mekaar kan help om diere te help.
Vorige artikels:
Diereskuiling in Cradock vra hulp 2022-05-19
Diereskuiling ontvang skenking 2024-05-01
Cradock-skut tydelik gesluit weens finansies 2022-09-01
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’