GRAAFF-REINET NUUS - Graaff-Reinetters het verlede week die voorreg gehad om oorvloedige reën, sneeu, die oorloop van die Nqwebadam en 'n dubelle reënboog te beleef.
Daar word baie vroeg in die Bybel gepraat oor reënboë - in Genesis 9, na die sondevloed plaasgevind het, sluit God 'n verbond met Noag, sy seuns en al die ander lewende wesens op aarde dat daar nie weer so 'n ramp die aarde sal tref nie.
Wat veroorsaak die verskillende kleure in 'n reënboog?
- Die waterdruppels in die atmosfeer is perfek rond of sferies, die vorms is verantwoordelik vir die vorming van 'n reënboog.
- 'n Reënboog sien jy net as die son van agter jou skyn en jy in 'n rigting kyk waar die son teen die sferiese reëndruppels skyn.
- 'n Reënboog bestaan uit sewe verskillende kleure, naamlik, rooi, oranje, geel, groen, blou, pers en indigo (donker blou). Die violet lig wat jy sien, kom van hoër reëndruppels, terwyl die rooi lig van laer reëndruppels af kom - die kleur word bepaal deur die grade waarteen die lig die druppels binnedring.
Waarom is 'n reënboog gebuig?
- 'n Reënboog is 'n optiese verskynsel wat veroorsaak word deur die breking van lig, interne weerkaatsing en verspreiding van lig in waterdruppels wat lei tot 'n aaneenlopende spektrum (die reënboog) van lig wat in die lug verskyn.
Wat veroorsaak 'n dubbele reënboog?
'n Dubbele reënboog vind plaas wanneer sonlig twee keer in 'n reëndruppel weerkaats word. Hierdie verskynsel is relatief algemeen, veral gedurende vroeë oggende of laatmiddae wanneer die son laag skyn.
Die tweede reënboog is dowwer as die primêre reënboog omdat meer lig uit twee refleksies ontsnap in vergelyking met een. Die sekondêre reënboog is ook byna twee keer so breed as die primêre boog.
Kyk mooi wanneer jy dit weer gewaar, die kleurvolgorde in die tweede reënboog is omgekeer!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’