NXUBA NUUS - Die Democratic Alliance (DA) het sy ernstige kommer uitgespreek ná nóg ’n noodlottige botsing die afgelope naweek waarin swaar vragmotors betrokke was in Nxuba (voorheen Cradock).
Volgens voorlopige berigte het ’n vragmotor wat mangaan vervoer het Sondagaand rembeheer verloor teen die afdraande by die Cradock-spoorwegbrug.
Die trok kon glo nie betyds spoed verminder nie en het teen die agterkant van ’n ander mangaanvragmotor gebots, waarna die kajuit aan die brand geslaan het.
Die bestuurder is op die toneel dood.
Die DA se Oos-Kaapse Midlands-kiesafdelingsleier, Heinrich Müller MPL, sê die voorval beklemtoon opnuut die dringende behoefte aan strenger padveiligheidsmaatreëls op een van die provinsie se gevaarlikste vragkorridors.
Die botsing toon volgens hom ontstellende ooreenkomste met vorige noodlottige voorvalle op die N10 tussen Nxuba en Middelburg.
In Desember verlede jaar is verskeie lewens in ’n soortgelyke botsing op presies dieselfde plek geëis.
Müller meen ’n bydraende faktor is die uitstaande voltooiing van die Middelburg-weegbrugprojek.
Die fasiliteit is bedoel om oorlaaide vragmotors te identifiseer en te verhoed dat hulle op provinsiale paaie opereer, maar is volgens hom weens swak projekbestuur vertraag.
Die afwesigheid daarvan skep volgens die DA ’n ernstige handhawingsgaping.
Hy het intussen weer aan die LUR vir Vervoer, Xolile Nqatha, geskryf om dringende verkeerskalmeringsmaatreëls op hoërisiko-gedeeltes van die N10 en omliggende roetes te versoek, asook die onmiddellike voltooiing en inbedryfstelling van die Middelburg-weegbrug.
“Doeltreffende monitering van vragvervoer is noodsaaklik om verdere lewensverlies te voorkom,” het Müller gesê.
Die DA het sy medelye met die familie en geliefdes van die oorlede bestuurder uitgespreek en benadruk dat geen lewe verlore behoort te gaan weens voorkombare tekortkominge in padveiligheidshandhawing nie.
Die party het bevestig dat hulle die provinsiale regering aanspreeklik sal hou en voortgaan om vir dringende ingryping te druk om alle padgebruikers te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’