CRADOCK NUUS - Dié dorp is besig om hul voorskote uit te skud en voorbereidings te tref vir die jaarlikse Karoo Food Festival (Karoo-kosfees) wat einde April in Cradock gehou word.
"Hierdie jaar beplan ons 'n straatkosfees op Vrydagaand, 29 April. Spesiale toestemming is verkry om Markstraat te sluit en slegs persone wat die toegangsfooi betaal het sal toegelaat word om die talle stalletjies wat op die Tuishuise se stoepe aangebied gaan word, te besoek," vertel Christine Pieterse, sameroeper van die fees.
"Talle inheemse en uitheemse kosse sal beskikbaar wees, asook koffie en alkoholiese drankies sal beproef kan word. Wyn, tuis-gemaakte bier en talle tipes jenewer sal te koop wees.
"Hierdie jaar word daar oor drie dae kosfees gevier en Saterdag beloof om net aangename verrassings in te hou, met talle stalletjies wat by Jenkins Creek hul ware gaan uitstal. Meer as 60 stalletjiehouers het reeds geregistreer en ons oefen streng beheer uit om te verhoed dat stalletjiehouers mekaar se produkte dupliseer."
Volgens haar sal daar ook 'n speelterrein vir die kleinspan ingerig word om hul besig te hou terwyl hul ouers die fees geniet.
Kos- en ander demonstrasies is ook op die spyskaart en dan is daar ook 'n heerlike pretdraf vir diegene wat graag die kalorieë wil afskud. Hierdie is die ideale geleentheid om Cradock en die dorpies rondom Cradock se Karoo-gasvryheid te geniet.
Belangstellendes en voornemende stalletjie-houers kan direk met die organiseerders kontak maak. Skakel gerus vir Pieterse by 076 258 4796 vir enige navrae.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'