CRADOCK NUUS - Die boere rondom Cradock en elkeen wat betrokke is by Cradock se jaarlikse skou is hard aan die werk om ’n uithalerskou op 23, 24, 25 Oktober op die Cradock-landbouskouterrein te kan aanbied.
André Lesch neem beheer by die skaaphondvertoning, terwyl Dewald Opperman die toutrekspanne byeen sal roep.
Die Bosberg Veaartsgroep gaan die hondeskou organiseer en kontroleer, terwyl Jaco Swart die karatevertoning sal reël.
Anri Wolmarans, streekbestuurder van die Melkprodusente-Organisasie (MPO) gaan ’n uitstalling hou en die fikse Olivia Moolman sal in beheer wees van alle reëlings rondom die pretdraf en pretstap.
Marie-Louise Nel en Janel Ferreira sal verantwoordelikheid vir die kuns- en gebakafdelings neem.
Wayne de Beer beplan lekker kinderpret en paintball-vermaak.
Normale skou-aktiwiteite sal die SA saalperdkampioenskappe insluit, terwyl SA Walliese ponies en Kaapse boerperde vertoon en beoordeel sal word.
Boere sal hul merinos, Angoras, en SA vleismerinos kan vertoon, en natuurlik sal daar ook ’n lusernskou wees.
Die slaglamkompetisie lok jaarliks wye belangstelling.
Die Oos-Kaapse Veterane kom spog ook weer met hul trekkers en enjins.
Die skouterrein sal, soos altyd, staanplek bied vir talle stalletjiehouers, en vroeë inskrywings kan reken op die beste staanplekke op die skouterrein reg langs die Visrivier.
Die volgende persone kan gekontak word indien enigiemand sou wou inskryf vir enige van die afdelings:
- Hendrik Opperman (voorsitter): 082 325 5748 of Coosie Crouse (sekretaresse) by 081 597 3166.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’