CRADOCK NUUS - Die gemeenskap van Nxuba gaan lank reeds gebuk onder waterprobleme, maar die skokkende nuus dat daar geen water by Cradock se hospitaal was nie, het Saterdag 9 November bekend geword toe daar 'n staking gehou is.
'n Plaaslike inwoner het die ambulans probeer kontak om haar bejaarde ouma (78) na die Frontier-hospitaal in Komani te vervoer nadat die Cradock Provinsiale Hospitaal hulle nie kon help nie.
Volgens 'n dokter het die hospitaal geen water gehad. Hospitaalpersoneel het ook gesê dat daar geen skoon linne was om pasiënte mee toe te rus by toelating nie.
Gemeenskapshulp
Volgens 'n gemeenskapsverteenwoordiger, Petrus Plaatjies, het hy met behulp van sy party se verteenwoordigers op 8 November altesaam 25 x 20 liters en 20 x 5 liters water in Hillside (Wyk 6) uitgedeel het.
"Huisgesinne was baie bly toe hulle die voertuie met water sien opdaag in Hillside.
Die watersituasie het mense warm onder die kraag omdat hulle geen antwoorde vanaf die relevante mense kry nie," het Plaatjies tydens 'n onderhoud met Graaff-Reinet Advertiser vertel.
Lopende water vir premier
'n Koerantberig wat ook onlangs in die Citizen verskyn het, vertel dat 'n "wonderwerk" op 8 November in Nxuba gebeur het.
"Cradock ervaar volgehoue watertekorte en dié dorp het die afgelope Saterdag, 8 November, 'n kort, verwarrende wonderwerk beleef.
Tydens die besoek van premier Oscar Mabuyane, vir 'n Provinsiale Kinderdag-geleentheid, het die droë krane wat 'n simbool van die plaaslike diensleweringskrisis geword het, skielik gevloei.
Vir een dag het die hoëprofielbesoekers die basiese mensereg geniet - skoon, gereelde water - wat roetinegewys geweier word aan die einste kiesers wat hulle verkies het," het die Citizen gesê.
"Die onmiddellike vraag wat hierdie tydelike oplossing opper, is een van doelbewuste verwaarlosing: Waarom word alles wat disfunksioneel was, foutloos uitgesorteer wanneer 'n hoogwaardigheidsbekleër 'n dorp wat ly, met hul teenwoordigheid vereer?
Vir maande het inwoners van gebiede soos Hillside en Bergsig onderbroke toevoer in die gesig gestaar, tog het die munisipale ratte Saterdag skynbaar met ongekende doeltreffendheid gedraai."
Spoorwegkamp
'n Inwoner van die Cradock-spoorwegkamp, Nadia Nelson, het die Advertiser ook gekontak. "Ons sukkel nou al vir amper nege maande met water.
Ek werk elke dag van agt tot vyf, maar ons het dalk een keer per week water vir 'n uur en dit is deur die dag, so wanneer ek by die huis kom, dan is daar maar nie water nie.
Ons het 'n tenk, want uit daai tenk moet ek badwater kry, skottelgoedwaswater en vir die toilet, en ons het ook troeteldiere.
Ons kla elke dag oor die waterprobleem en al wat gese word, is dat hulle werk aan die probleem," het Nelson gesê.
Op Woensdag 12 November het 'n baie opgewonde Nelson laat weet dat hul waterprobleme uitgesorteer is.
Waterpomp herstel
'n Verklaring deur Gcobisa Mashiyi, munisipale bestuurder by die Inxuba Yethemba-munisipaliteit, het later daardie dag bevestig dat 'n waterpomp herstel kon word, en dat waterprobleme in die wyke waar daar probleme was, uitgesorteer kon word.
"Watertoevoer na die Cradock Hospitaal is weer vanaf 10:00 op Woensdagoggend 12 November herstel en beskikbaar," het sy verklaring gelui.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’