GRAAFF-REINET NEWS - Surainda Juries-Philander het onlangs haar tweede boek, Dit Borrel in my Bloed, vrygestel. Die Graaff-Reinet gebore en getoë Juries-Philander, tans 'n onderwyseres, het in Februarie 2021 begin skryf nadat sy in Desember 2020 'n hewige stryd teen Covid oorwin het.
Sy vertel dat sy een Sondag net gevoel het dat sy 'n pen en 'n boek moet kry want daar was iets wat moes uitkom.
Sy het gaan sit en vir drie ure aaneen geskryf en so het haar boeke begin. "Dit was so onverwags maar op daardie Sondag het die skryfgogga my gebyt en die woorde het net uitgevloei," sê sy.
Juries-Philander se eerste boek, My Toekoms van Gister, is al op 11 September 2021 vrygestel. "Ek het al die jare gesê dat ek eendag 'n boek wil skryf, maar het nooit geweet waaroor en wanneer nie. Dat dit nou juis ná Covid moes gebeur…" Juries-Philander beklemtoon dat sy nie 'n beroepskrywer is nie - sy is 'n onderwyseres met wetenskap as vakgebied. "Al wat ek nog al die jare was is 'n onderwyseres, maar om te skryf bied vir my soveel vreugde. Dit is my passie, my terapie. Ek wens ek het dit vroeër geweet, maar alles het mos maar sy eie tyd," sê sy. "Die inspirasie om te skryf pak my deesdae sommer enige tyd van die dag of nag beet en daarom het ek het altyd 'n boek byderhand waarin ek idees neerstippel soos dit by my opkom. Soms staan ek sommer in die middel van die nag op om te skryf."
Die storielyn van albei Juries-Philander se boeke is baie dieselfde. Beide het bruin vroue as hoofkarakters en speel in Europa af.
Die eerste in Italië en die mees onlangse gedeeltelik in Spanje, maar ook in Kaapstad. Juries-Philander glo dat bruin vroue gestigmatiseer word en min ondersteuning kry. Met haar boeke probeer sy nie om die bruin vrou as die perfekte vrou uit te maak nie, maar wel om haar integriteit en deursettingsvermoë te beklemtoon.
"Enige vrou kan 'n vrou van integriteit wees, dit hang net af van die keuses wat sy vir haarself maak," meen Juries-Philander. Sy noem dat sy nog nooit self in Europa was nie, maar dat sy intense navorsing oor hierdie lande gedoen het.
"Van my vriende wat al daar was sê dat ek dit perfek beskryf het," lag sy. Sy is van kleins af gefassineer deur Europa en sê dat 'n toer beslis op haar lysie is. Beide boeke is 70% Afrikaans, 30% Engels en 10% Italiaans en Spaans onderskeidelik, en dit is dan ook hierdie mengelmoes van tale wat haar boeke so uniek maak.
Ten spyte van die feit dat haar boeke liefdesverhale is, glo Juries-Philander dat daar 'n lewensles vir elke persoon in haar boeke is.
"Dit maak my hart so bly wanneer ek tydens my boekbesprekings hoor wat mense daaruit gekry het." My Toekoms van Gister vertel die verhaal van 'n vrou wat die stukke van haar lewe moes optel en aanbeweeg ná 'n mislukte huwelik. Hoe sy doelbewus die besluit moes maak om op haarself te fokus en in haar eie geluk te belê. "Alhoewel dit nie my storie is nie, het ek en die hoofkarakter van hierdie boek baie in gemeen," sê Juries-Philander.
"Ek werk ook deesdae elke dag aan myself, vir myself. Covid het my geleer hoe belangrik self-love is."
Dit Borrel in my Bloed vertel die eeue-oue verhaal van hoe versoeking 'n mens se lewe kan ruïneer. Dit is 'n verhaal wat ieder en elk diep sal raak.
Sy gebruik tans Facebook as platform om haar boeke te bemark. Dit kan op haar Facebook-blad, Surainda se Liefdesverhale, bestel word teen R200 per boek. Elke boek word onderteken en kom met 'n persoonlike boodskap van die skrywer.
'We bring you the latest Graaff-Reinet, Karoo news'