GRAAFF-REINET NUUS - Dit skort net nooit aan vindingrykheid onder die inwoners en entrepreneurs in Graaff-Reinet nie, en dit was weereens deur Claudie Troskie bewys toe sy voor 07:00 Saterdagoggend 20 September op ’n Graaff-Reinet WhatsApp-groepie ’n hele versameling saailinge adverteer het.
’n Direkte skakel na haar besigheids- WhatsApp-nommer en almal was vinnig aan die gons, want watter tuinier gaan nou terugsit en kyk hoe ander groen vingers al die saailinge opraap?
Omdat die Graaff-Reinet Advertiser nog nooit van dié manier van direkte saailingbemarking in Graaff-Reinet gehoor het nie, het die koerant navraag gaan doen.
Troskie kon eindelik met die koerant gesels nadat die grootste gros van haar saailinge reeds verhandel het, en sy vertel toe dat sy die saailinge aanvanklik in haar motorhuis begin kweek het, en die saailingbesigheidjie toe sommer “Uit die Waenhuys” gedoop het.
“My ‘waenhuis’ het vinnig te klein geword, en kort voor lank moes ek uitbrei,” vertel sy.
“Ek gaan regdeur die groeiseisoen, elke twee weke of so wanneer ek genoeg saailinge gemaak het, foto’s daarvan op die WhatsApp-groep adverteer, en dan kan almal, van ver of naby, my kontak en sommer reël wanneer hulle die plantjies kan betaal, of kan kom haal en betaal,” sê sy.
Troskie sê sy het haar WhatsApp-bestellings eers vanaf 10:00 Saterdagoggend begin lees, en dadelik reageer, en almal wat deel van die vet pret was se tuine blom ná Saterdag met splinternuwe gesonde saailinge, sommer so reg uit die Waenhuys by Bourkestraat 72, reguit die grond in!
“Vir my is die persoonlike kontak met plantliefhebbers die heel belangrikste, en ons wil mos almal graag gesonde plantjies en saailinge teen die beste prys bekom, en waar nou beter as sommer hier naby, sodat die goed geplant kan word op dieselfe dag as wat dit uit die Waenhuys uitkom!” sê Troskie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’