KAROO NUUS - Hoër Volkskool se o. 16 A-hokkiespan het verlede Vrydag 'n noue ontkoming gehad toe die bussie waarin hulle gereis met 'n koedoe gebots het.
Die spelers was op pad terug van hul wedstryde teen Gill College in Somerset-Oos, toe die ongeluk ongeveer 5 km uit die dorp op pad terug na Graaff-Reinet gebeur het. Gelukkig is niemand ernstig beseer nie.
"Dit was natuurlik 'n groot skok vir almal in die bus, asook almal wat in die agterste bussie gery het en alles gesien gebeur het. Twee van die hokkiespelers was vlugtelik dorp toe om mediese behandeling te kry. Tussen Somerset-Oos en Graaff-Reinet se gemeenskappe, het almal vinnig hulp aangebied. 'n Spesiale dank aan Shirley Billet, skoolhoof van Gill College, wat self vinnig op die toneel was," sê Suliza van Wyk, woordvoerder van Hoër Volkskool.
"Sy het ook gereël dat ons meisies na Gill se koshuis vervoer word. Hulle het daar iets te ete gekry en kon wag vir 'n ander bussie van Hoër Volkskool om hulle terug na Graaff-Reinet te vervoer.
"Namens Hoër Volkskool wil ons almal ook bedank vir hulle flink optrede en ook alle hulp wat aangebied is. Dis verblydend om te weet dat ons Karoodorpe se gemeenskappe saamstaan in krisissituasies," sê Van Wyk.
Hierdie is 'n slegte herinnering aan die gru-ongeluk toe 'n bussie van Laerskool Cradock, oor dieselfde sportnaweek in 2012 en onder soortgelyke omstandighede, lewensverlies tot gevolg gehad het.
Klik hier om nog foto's op Facebook te sien..
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’