MOLTENO NUUS - Die Noord-Oostelike Distrik (NOD) se vierde rolbalfinaal is op Saterdag 24 Januarie by die Molteno-rolbalklub beslis, waar spanne van regoor die distrik mekaar die stryd aangesê het.
Die byeenkoms is gekenmerk deur hoë spelstandaarde, goeie sportmanskap en strawwe kompetisie.
Burgersdorp A het as die algehele wenners uit die stryd getree nadat hulle met konsekwente en uitstaande spel die titel verower het.
Hulle het die toernooi met 10 punte en ’n telling van +72 afgesluit.
Die tuisspan, Molteno, het tweede geëindig met agt punte en ’n telling van +10, terwyl Burgersdorp B derde was met vier punte (-16).
Steynsburg het vierde geëindig (vier punte, -26), gevolg deur Schoombee in vyfde plek (twee punte, -8) en Queenstown sesde (twee punte, -32).
Die Molteno-rolbalklub is geloof vir ’n uitstekende aanbieding van die finaal.
Erkenning is ook gegee aan die baanmeester en alle rolbalspelers wat tot ’n suksesvolle en genotvolle rolbalgeleentheid bygedra het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’