KAROO NUUS - Na swaar reën in die Sarah Baartman-distrik, is talle hoofpaaie, brûe, passe en agterpaaie die afgelope week gesluit. Oorstromings het wyd plaasgevind met laerliggende gebiede wat moes voorberei vir die ergste.
'n Waarskuwing dat die Groot Visrivier-opvangsgebied baie hoër as normale watervlakke kon verwag en vrystellings by die Elandsdriftdam, het ook gisteroggend, 5 Junie, die ronde gedoen. Die Katkop-weir het ook teen vroeg Woensdagoggend oor die brug begin vloei.
Willowmore het sedert Sondagaand, 2 Junie, tot ongeveer 105 mm reën ontvang. 'n Inwoner van Willowmore het Dinsdag 4 Junie vertel dat sy Maandagoggend, 3 Junie, 07:00 al 60 mm reën uit die reënmeter gegooi het en Dinsdag 4 Junie weer 45 mm. By Nuwekloof op pad na die Baviaanskloof en by Vaalfontein suidoos van Willowmore is daar 80 mm reën gemeet.
Die R61 - van Cradock na Graaff-Reinet - was ook gesluit weens sneeu en vragmotors wat op die pad tussen Middelburg en Hanover in die sneeu vasgeval het op Dinsdagoggend, 4 Junie.
Jan-Hendrik Swiegers, 'n inwoner van Murraysburg, vertel dat dit 100 mm sedert Sondag gereën en ongeveer 15 cm in die omgewing gesneeu het.
In Graaff-Reinet het die opwinding hoog geloop en al wat leef en beef het gisteroggend (5 Junie) by die Nqwebadam vergader, selfone in die hand om die skouspelagtige vertoning van die dam wat oorloop op kamera vas te lê.
Thinus Ferreira, inwoner van Graaff-Reinet wat elke keer wanneer dit reën die metings doen om die publiek in te lig, vertel dat dit sedert Maandagaand tot gisteroggend al 46 mm gereën het- jy kan hom volg op Graaff-Reinet Neighbourhood Watch AND Community Page op Facebook. Volgens Ferreira het daar in Januarie 13.5 mm reën geval en in Februarie geen. In Maart het 34 mm geval en in April 67.5 mm. Mei was weer droog, maar Junie het 57 mm reën opgelewer in Graaff-Reinet.
Tussen Hofmeyr en Molteno is daar op Amajuba 78 mm aangeteken en op Van Vuurenshoek tussen Hofmeyr en Tarkastad is daar 70 mm aangeteken, met laer neerslae oor die ander distrikte. Swaar sneeuneerslae oor die Bamboesberge het ook in Molteno groot skade veroorsaak toe 'n groot winkel se dak ingesak het as gevolg van die sneeu.
Met weervoorspellings wat nie verdere swaar reën voorspel nie en meestal bewolkte en koel weer voorspel, kan die Sarah Baartman distrik dalk nog sneeu verwag, maar almal sal moet wag en sien.
Thinus Ferreira hou die reënmeter omhoog van die reën wat van Maandagaand tot Woensdagoggend geval het. Foto: Thinus Ferreira
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’