KAROO NUUS - Dit het vir talle Suid-Afrikaners soos die lig aan die einde van die tonnel geklink toe Minister Solly Malatsi, Nasionale Minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, op 4 Oktober 'n inisiatief bekend gestel het om breëbandkonnektiwiteit regoor Suid-Afrika uit te brei.
John Steenhuisen, parlementslid en leier van die DA, het die inisiatief verwelkom as meer as net 'n beleidsaankondiging.
"Dit is 'n baken van hoop vir miljoene Suid-Afrikaners wat lankal agtergebly het in die digitale era," het hy kort na die aankondiging in 'n verklaring gesê.
Internet toegang gesmoor
Steenhuisen sê die harde werklikheid is dat beleids-onsekerheid rondom die 30% diensbillikheidsvereiste die vordering met universele internettoegang gesmoor het en miljoene geleenthede verwoes het wat met internettoegang gepaardgaan. "Dit moet eindig," het hy gepleit.
In die Oos-Kaap is daar op vele plase en Nasionale Parke geen internet nie.
Dit het 'n impak op die veiligheid van toeriste en reisigers, eiligheid op plase, toegang tot sensors op vee en die gehalte onderwys want talle skole en miljoene leerders het nie toegang tot die internet nie.
Vinnige internet vir almal
Steenhuisen vra vir die transformerende krag van bekostigbare, vinnige en betroubare internet vir elke Suid-Afrikaner.
Hy sê navorsing toon dat elke 10% toename in breëbandpenetrasie 'n merkwaardige groei van 1,21% in die Bruto Binnelandse Produk dryf. Konnektiwiteit is 'n reddingsboei wat mense bemagtig om besighede te begin, werk te kry en geleenthede te ontsluit.
'Game-changer'
Steenhuisen glo Malatsi se inisiatief is 'n "game-changer", wat op twee kritieke aspekte fokus:
• Reguleringshervorming
Dit sal die hindernisse afbreek wat innoverende diensverskaffers, soos Starlink, verhoed om die Suid-Afrikaanse mark te betree. "Nuwe idees moet voortdurend verwelkom word wat bekostigbare breëband na elke uithoek van Suid-Afrika kan bring."
• Bekostigbare slimtoestelle
Slimfone is noodsaaklik vir toegang tot die internet. Wanneer hierdie instrumente meer bekostigbaar gemaak word, ontsluit dit die digitale wêreld vir almal.
Bemagtigingsprogram
"Die minister se belofte om 'n beleidsrigting aan Okosa uit te reik, is 'n belangrike stap vorentoe, wat die duidelikheid verskaf wat nodig is om noodsaaklike beleggings in ons IKT-sektor te lok. Hierdie inisiatief het die potensiaal om een van die grootste bemagtigingsprogramme in die geskiedenis te wees.
"Stel jou die dag voor wanneer elke Suid-Afrikaner, veral dié in afgeleë en onderbediende gebiede, aan die internet kan koppel, toegang tot inligting kan verkry en hul lewens kan verbeter?" sê Steenhuisen wat glo dat hierdie veldtog met die nodige passie en dringendheid gelei sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’