ABERDEEN NUUS - 'n Brand het gisteraand 20:00 in 'n huis in Van Riebeeckstraat, Aberdeen ontstaan. Nadat die brand aanvanklik geblus is, is daar later met skok ontdek dat veral die dakbalke steeds gesmeul en opnuut begin brand het.
Die plaaslike brandbestryders het met alles tot hul beskikking in hul beperkte vermoë tot ná 4:00 gestoei om die brand te blus. Niemand is in die brand beseer nie, maar die inwoners het egter haas al hul besittings verloor.
Dirk Goeieman van Aberdeen Safety and Security Services ('n plaaslike buurtwag) wat net voor 3:00 op die toneel was, bevestig ook dat die brand vroeër die aand ontstaan het. Voorlopige ondersoek dui daarop dat die brand waarskynlik deur 'n onbewaakte kers veroorsaak is.
Aberdeen se munisipale brandbestryders beskik oor twee toegeruste bakkies en beide is gebruik in die voorval. Doeltreffende bestryding van die brand is bemoeilik deur twee onpadwaardige voertuie wat voor die huis geparkeer is en 'n hoë muur met lemmetjiesdraad bo-op, aan die een onbeboude sy-grens van die perseel. Die ander twee grense van die eiendom grens direk aan ander beboude erwe wat toegang tot die perseel bemoeilik het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’