Update
GRAAFF-REINET NUUS - In 'n grubotsing tussen 'n Renault sportnutsvoertuig en 'n Toyota Quantum minibus op die N9 tussen Graaff-Reinet en Aberdeen, het vyf Aberdeners - almal lede van dieselfde familie - in die Renault omgekom.
Al 13 insittendes van die minibus het oorleef maar is ernstig beseer.
Die trompop botsing het Maandagoggend, 13 Januarie tussen 03:30 en 04:00 gebeur, ongeveer 30 km buite Graaff-Reinet.
Die Renault was oppad vanaf Gqeberha na Aberdeen, terwyl die Quantum van die Wes-Kaap in die rigting van Graaff-Reinet gereis het.
Die woordvoerder van die Oos-Kaapse Department van Vervoer, Makhaya Komisa het Maandag gesê twee van die 13 beseerdes is in 'n kritieke toestand.
Vier van die Renault se insittendes, insluitend die bestuurder, is op die toneel dood verklaar.
Veertien beseerdes, insluitend 'n 2-jarige dogtertjie wat in die Renault was, is deur nooddienste na die hospitaal in Graaff-Reinet gehaas, waar die dogtertjie later aan haar beserings beswyk het.
Al die Renault se insittendes was vroulik, met twee van die passasiers kinders van 7 jaar en 2 jaar. Die familie het gestrek oor vier geslagte - van 'n tannie aan grootmoederkant tot twee kleinkinders.
Die oorsaak van die botsing is steeds onbekend en 'n saak van strafbare manslag word ondersoek.
Ten tye van publikasie is nog geen amptelike mediaverklaring vanaf die SAPD se woordvoerders ontvang nie.
Foto's van die ongelukstoneel toon dat die voertuie aan die kant van die pad wat na Graaff-Reinet lei, gebots het.
Aberdeners rou
Een van die passasiers van die Renault was 'n bekende inwoner, Delré Brouers (28).
Brouers was 'n geliefde en gerespekteerde onderwyseres verbonde aan Kamdebo Primêr in Lotusville in Aberdeen. Brouers se tweejarige dogtertjie is later Maandagoggend in die hospitaal oorlede.
Al vyf insittendes van die Renault was bekend in Aberdeen. "Jare gelede het ons een Maandagoggend wakker geword met die nuus dat agt Aberdeners oppad na die Kaap in 'n busongeluk oorlede is.
Daai dag was die dorp grafstil. Niemand het gepraat nie. Vandag is dit weer so - dis asof die dood self in ons dorp se strate is vandag," het een van die inwoners Maandag die bedroefde atmosfeer in Aberdeen beskryf.
Daniel Pieterse, skoolhoof by Kamdebo Primêr, het in 'n emosionele onderhoud gesê die leemte wat Brouers laat, is onbeskryflik groot. "Ek mis haar so. Sy is weg in die fleur van haar lewe. Soveel potensiaal ..."
Pieterse het die uitgebreide rol wat Brouers in die skool gespeel het, beklemtoon. "Sy was nie skaam vir werk nie.
Altyd bereid om nog werk op haar te neem. Gaan kyk na haar klaskamer - alles is alreeds voorberei en gereed vir die nuwe skooljaar."
Pieterse het gesê Brouers was een van sy Graad 7-leerlinge en dat dit 'n heuglike oomblik was toe sy in 2020 by die skool begin het as onderwyseres.
Hy het Maandag die nodige reëlings getref vir traumaberading vir die personeel - wat op Dinsdag geskied het - en bevestig dat, indien nodig, traumaberading ook aan leerders beskikbaar gestel sal word.
Kamdebo Primêr hou Vrydag 17 Januarie om 12:00 'n gedenkdiens by die VGK-kerk in Lotusville. Almal is welkom.
Familie versoek privaatheid
Die Advertiser het die naasbestaandes van die oorledenes gekontak en 'n familielid het versoek dat hulle privaatheid vir die oomblik gerespekteer word.
"Ons sal later gesels, maar ons wil asseblief eers ons mense ter ruste lê. Ons sal graag die begrafnisreëlings kommunikeer sodra dit gefinaliseer is."
Een van die familielede het bevestig dat die ter aarde bestellings waarskynlik in Gqeberha sal plaasvind.
Alhoewel die name van die oorledenes bevestig is deur die familie, het die familie versoek dat dit nog nie gepubliseer word nie; ook aangesien nog geen amptelike medieverklaring deur die SAPD uitgereik is nie.
Oos-Kaapse LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, het Maandag sy medelye met die familie van die oorledenes uitgespreek en al die beseerdes spoedige herstel toegewens.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’