CRADOCK NUUS - Jaarliks ervaar honderde bosluisvoëlkuikens 'n skreiende lot in Cradock, omdat sommige inwoners glo nie die geraas en gemors van die voëls tydens die broeiseisoen kan hanteer nie.
Die Inxuba Yethemba-munisipaliteit het onlangs begin om die dennebome in die omgewing, op versoek van sekere inwoners af te kap.
Die bosluisvoël (bubulcus ibis)
Die Wesbees-bosluisvoëls (bubulcus ibis) dra by tot die boeregemeenskap deur bosluise van vee af te pik en ander klein insekte in die veld te verslind, wat 'n doeltreffende strategie is om peste in toom te hou.
Ongeveer 50 jaar gelede het hierdie voëls begin nesmaak in die bome van Cradock omdat hulle natuurlike habitat glo deur die aanleg van besproeiingslande langs die Visrivier, vernietig is.
Inwoners het aanvanklik nie beswaar teen die teenwoordigheid van die Wesbees-bosluisvoëls gemaak nie - selfs al het daar kenmerkende wit blertse op motors se voorruite verskyn.
Met die verloop van tyd het die voëlpopulasie toegeneem omdat kuikens jaarliks na dieselfde boom terugkeer, om self daar te broei.
Inxuba Yethemba-munisipaliteit in Cradock
Die munisipale bestuurder van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit in Cradock, Zonke Noncedo Sncesh, sê dat die munisipaliteit op versoek van die gemeenskap, die bome afsaag.
Julienne du Toit van Karoo Space het opgelet dat bome wat net gesnoei is, geen neste in het nie. Daar bestaan groot kommer by haar oor die huidige praktyk waar bome doodeenvoudig net afgekap word, sonder nuwe aanplantings.
Kommentaar van publiek
Volgens Tracey Michau, 'n bekende boer van die distrik wat by die beskerming van fauna en flora betrokke is, mag geen boom afgesaag word waarin daar eiers van voëls voorkom nie - en defnitief ook nie die van die Bosluisvoëls (beesreiers) wat op die lys van beskermde Suid-Afrikaanse voëls is nie.
Michau stel voor dat daar 'n alternatiewe benadering oorweeg word, soos die bemarking van die mis van hierdie voëls as bemesting aangesien daar 'n aansienlike aanvraag vir dit bestaan.
Munisipale werkers, besig om van die bome in die dorp af te saag.
Animal Anti-Cruelty League in Gqeberha
Beverley Rademeyer van die Animal Anti-Cruelty League in Gqeberha sê dat sy reeds verlede jaar na dieselfde treurmare 'n volledige inligtingstuk aan die Cradock-munisipaliteit deurgestuur het, om die korrekte werkswyse en geskikte snoeipraktyke deur te gee, met 'n versoek dat die inligting aan hul werkspanne deurgegee word.
"Die huidige werkswyse benadeel nie net die beskermde bosluisvoëls nie, maar vernietig ook bome wat al vir bykans 200 jaar groei, en dit is ook onwettig," sê sy.
Brendan en Danelle Murray van the Owl Rescue Sentrum
In die verlede het die enigste hulp gekom van die Owl Rescue Sentrum in Hartbeespoort, wat deur Brendan en Danelle Murray bedryf word. Dit neem hulle gewoonlik vier dae om alles in plek te kry om die kuikens te kom red en dan met 'n privaat vliegtuig na die sentrum te vervoer.
Brendan het aan die Advertiser genoem dat die publiek darem kon verhoed dat verdere bome afgekap word.
Dié jaar is daar slegs 15 kuikens gered wat na die sentrum vervoer is.
Nicolene Steyn, 'n inwoner
'n Munisipale werker het glo hand bygesit toe hy sien dat Nicolene Steyn, 'n inwoner van Cradock, probeer om van die kuikens te red. Sy vertel dat die munisipale werkers takke half afgesaag het en met 'n kabel verder van die boom afgeskeur het.
Eiers wat in die neste was het op die grond stukkend gebreek. "Soos wat die takke geval het, het ek probeer om die kuikens te red, maar omdat die takke bo-op mekaar geval het kon ek nie by die onderste kuikens uitkom nie," vertel Steyn.
"Die kleiner kuikens wat nog geen veertjies gehad het nie, het dadelik gesterf. Nog vier ander se bene en vlerke was so ernstig beseer dat ek hulle teen die aand verloor het."
Steyn het 'n volledige inligtingstuk oor die jaarlikse tragedie aan die departement van omgewingsbewaring gestuur, wat nog nie ontvangs erken het nie.
Sy vermoed die rede daarvoor is dat die departement weet dat sy vinnig genoeg op die toneel was om hulp te verleen en dat hulle 'n klag by die munisipaliteit ingehandig het wat die verdere afsaag van bome verbied.
"Na so 'n snoeisessie lê sterwende kuikens oral in die strate. Hul is vreesbevange, honger, en vind nie hul ouers nie; hulle bly voortdurend roep. Kinders speel selfs met hulle en die dooie kuikens word geskop asof hulle sokkerballe is. Daar was min inwoners wat aangebied het om vir vier dae na die kuikens om te sien totdat hulp opdaag," sê Steyn.
Dit is al wat oorgebly het van ‘n boom waarin daar kuikens was.
Departement van natuurbewaring en omgewingsake
Op versoek om kommentaar rakende hierdie aangeleentheid te lewer, het die departement van natuurbewaring en omgewingsake in die Chris Hani-distrik gesê dat die betrokke persoon wat die aangeleentheid moet hanteer nie beskikbaar is nie.
Die departement het wel gesê dat hulle ten gunste is van die verwydering van indringerbome, maar dat die beheer nie ten koste van beskermde voëllewe moet wees nie.
Die Advertiser het weer probeer om met die Inxuba Yethemba-munisipaliteit kontak te maak, maar geen antwoord kon telefonies of per e-pos gekry word nie. Wanneer die munisipaliteit op verdere navrae reageer sal die Advertiser daaroor berig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’