GRAAFF-REINET NUUS - Twee vermeende inbrekers is vroeg Maandagoggend gearresteer nadat Renier Strydom van Cradock Sekuriteit (CDK) hulle op die perseel van Reinet Huis vasgetrek het.
Strydom het hulle betrap terwyl hulle besig was om die Koetskamer se deur af te breek en so groot skade en verlies voorkom.
Anziske Kayster, bestuurder van die Graaff-Reinet-museum, sê die museum se historiese geboue het die afgelope jaar erg onder misdadigers deurgeloop.
Die eerste inbraak was op 19 Augustus by Reinet Huis en net die volgende aand by Urquhart huis. Kayster vertel die inbrekers by Urquhart Huis het haar kantoordeur se venster uit sy raam geruk.
"Ek het geen idee hoe hulle geweet het dat daar 'n venster is nie want die venster kyk uit op 'n stegie met 'n deur met 'n dubbele slot." Sy sê die booswigte het oor die muur geklim, die deur stukkend geslaan, en toe die venster uitgeruk. "My rekenaar met al die museum se inligting is gesteel." 'n Omskakelaar is sonder rede stukkend gekap.
By Reinet Huis het die inbrekers die deure en slotte beskadig en skaniere uit die kosyne gebreek.
Op 10 September was daar nog 'n inbraak – hierdie keer by die ou biblioteek in Kerkstraat. "Ek weet nie waar mense die krag vandaan kry om 'n veiligheidshek heeltmal om te buig nie maar dit is hoe hulle toegang tot die kombuis verkry het. Daarna het hulle die middeldeur wat lei na die res van die museum afgekap. Toe het die alarm afgegaan."
Die diewe het weggekom met die toerismekantoor se ketel en mikrogolf, asook breekware en eetgerei.
Kayster sê die Koetskamer waar hulle Maandagoggend probeer inbreek het, het dieselfde skanierstelsel wat spesiaal vir die deure van die museum se geboue laat maak is. "Die groot dubbele houtdeur het hulle so gebreek dat die splinters oral rondgelê het."
Die skade is massief omdat deure en vensters elke keer spesiaal gemaak moet word. Ten spyte van die gesofistikeerde sekuriteitstelsel kom die inbrekers telkens op 'n ander plek in. "Elke keer as daar 'n inbraak is moet ek 'n verslag skryf aan die risikobestuurder van die department wat dan kom kyk of ons nie nalatig was nie en of ons sekuriteitstelsel behoorlik werk. Dit is uiters senutergend."
Kayster bedank die polisie en CDK. "Die polisie het baie gehelp. Ons het my rekenaar teruggekry maar hulle het ongelukkig reeds die hardeskyf uitgehaal so die inligting kon nie herwin word nie."
CDK weer tot redding
Cradock Security se vinnige optrede het ook Donderdag 24 November tot die arrestasie van 'n vermeende inbreker gelei toe die Lewis-meubelwinkel se alarm afgegaan het. 'n 30-jarige man wat glo toegang deur 'n venster verkry het, is aan die polisie oorhandig. Die bestuurder van CDK, Johann Henning, het aan joernalis Bradley Rawlinson gesê dis belangrik vir die polisie en sekerheidsfirmas om saam te werk. "So hou ons Graaff-Reinet veilig."
Die groot dubbele houtdeur van die koetskamer is so gebreek dat dit net aan die skanier wat spesiaal daarvoor gemaak is gehang het. Foto's: Chriszanne Janse van Vuuren
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'