ABERDEEN NUUS - Die fondse wat by die uiters suksesvolle saamtrek wat onlangs deur die Aberdeen Boerevereniging gehou is, ingesamel is, gaan vir die sekuriteitskamerastelsel wat plase beskerm, aangewend word.
Aberdeen Boerevereniging hou jaarliks 'n saamtrek om fondse in te samel om die hoë moniteringskostes asook internetbeskikbaarheid en instandhoudingskoste, te dek.
"Aberdeen Boerevereniging het altesaam 10 kameras langs en om Aberdeen se hoof- en afdraaipaaie, asook by Stinkdraai, tussen Aberdeen en Graaff-Reinet," sê die vereniging se sekretaresse, Norette van Rensburg.
"Die kameras is mettertyd deur die boerevereniging opgerig om die veiligheid van boere te verseker, in samewerking met Agri Oos-Kaap wat ook betrokke is by die monitering."
Sy sê die moniteringstelsel is uiters suksevol in die bekamping van misdaad, en die beveiliging van die boeregemeenskap.
Vreemde persone en voertuie word onmiddellik opgemerk en deurgegee aan die monitors in die verskillende areas.
Paaie kan konstant gemoniteer word en enige lid wat enige verdagte aktiwiteit opmerk, kan hul komiteelede dadelik kontak.
"Die inkomste uit hierdie goed-ondersteunde jaarlikse saamtrek het tot gevolg dat die Aberdeen Boerevereniging se ledegeld nie die hoogte hoef in te skiet nie, in swaar ekonomiese tye nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’