CRADOCK NUUS - Karin Human, van die Cradock-diereskuiling vertel dat haar hart wou breek to sy Blue, die skaaphond of familie van 'n skaaphond vir die eerste maal sien.
"Blue het erg brandsiek en is tans op 'n spesiale hoë voedingswaarde dieet. Sy sal al haar inspuitings kry sodra sy sterker is," vertel Human.
Na 'n telefoonoproep van 'n besorgde engel verlede Maandag, het Human 'n persoon uitgestuur na Michausdal om vir Blue te gaan haal.
"Almal was ongelooflik geskok om die hondjie buite 'n winkel in Michausdal te vind. Ons veearts het die volgende dag na Blue gekyk en ons het geweet net die uiterste sorg sou haar deurtrek."
Blue is ongeveer vyf of ses maande oud en volgens Human is sy 'n liefdevolle klein vegter wat elke krieseltjie kos, liefde en aandag opslurp.
"Op die stadium kyk ons verby die erge brandsiek, wat ons met toewyding behandel, en ons kyk eerder diep in haar pragtige bruin honde oë waar die seerkry nog so vlak lê."
"Blue sal ook binnekort beskikbaar wees vir aanneming en ons glo sy sal ten volle herstel en vergeet van haar tragiese verlede."
Daar is natuurlik finansiering nodig om haar 'n nuwe lewe te gun. Kontak gerus vir Karin Human by die Cradock-diereskuiling by 073 811 3663 en maak 'n donasie vir Blue se versorging.
Mense is welkom om haar te besoek en solank 'n band met Blue te bou en moontlik aan haar 'n liefdevolle huis te gee na haar lang herstelpad.
'Ons bring jou die nuutste Cradock, Karoo nuus'