KOOKHUIS NUUS - Die Kookhuis VLV-tak het onlangs ’n spesiale oggend aan hul geliefde bejaardes gewy – in pas met die tema van die jaar.
Hulle kon, met groot dankbaarheid, 12 blokkieskombersies aan die senior pasiënte van Pink Trees for Pauline oorhandig.
Daarna het die VLV-vroue by Huis Silwerjare gaan kuier.
Mia van Eeden het ’n pragtige en gepaste voordrag gelewer wat almal herinner het dat, al verander die jare, ons steeds geliefd en kosbaar bly vir die Een wat ons gemaak het.
As bederf het elke inwoner ’n houertjie eetgoed ontvang om tydens teetyd te geniet.
"Dit was voorwaar 'n oggend vol dankbaarheid, liefde en mooi herinneringe!" sê Alta Triegaardt van die VLV-tak.
Pink Trees for Pauline
Pink Trees for Pauline is in 2012 gestig toe die eksponensiële groei van een vrou se droom gelei het tot 'n projek met 'n reuse impak.
Carol-Ann van Jaarsveld, wat beide haar ma en haar ouma, albei Pauline, aan kanker verloor het, het hierdie monumentale verlies in 'n epiese verhaal van hoop, bemoediging en meelewing verander.
Die nalatenskap van hierdie twee betekenisvolle vroue het in Carol-Ann se tuisdorp, Graaff-Reinet, begin blom.
In Oktober 2012 is 4 000 bome langs die strate in pienk materiaal toegedraai om fondse in te samel om die plaaslike kankerpasiënte te help, kankerbewustheid te verhoog, en hoop en inspirasie te bied vir die "Paulines" in ons lewens.
In November 2012 het Adri Jansen van Nieuwenhuizen, 'n borskanker-oorlewende, en dr. Pam Kerr, 'n opvoedkundige sielkundige, by Van Jaarsveld aangesluit om die nie-winsgewende organisasie Pink Trees for Pauline te stig.
Van Jaarsveld se oorspronklike visie het die dryfkrag geword vir baie mense wat Suid-Afrika en Namibië se bome in pienk toedraai om nuwe lewe tydens en na kanker te simboliseer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’