STEYNSBURG NUUS - Vol vreugde en borrelende lentelus het hulle op 4 September by die Steynsburgklub opgedaag.
Die 120 dames wat die BKB damesdag by bygewoon het, het hul vrolikste, kleurvolste rokke aangetrek om na die gasspreekster, Marciel Hopkins, te kom luister.
Self geklee in die mooiste blomrok, het Hopkins vertel van haar reis na selfaanvaarding en -ontdekking, en het elke vrou inspireer om hulself te vind en te herontdek, ongeag ouderdom of persoonlike krisisse.
Sariëth Maree, BKB se kleinhandel- streekbestuurder, het die BKB-span verteenwoordig met 'n uitstalling van Woolish G.R.O.W. Wolkunsmis.
Elke dame het ook ’n geskenkpak ontvang.
Die geleentheid is deur Karen Cloete en haar puik reëlingskomitee van die Steynsburg Boere-unie georganiseer en alle fondse wat by die geleentheid ingesamel is, word aan die Marais Steyn Tehuis vir bejaardes op Steynsburg geskenk.
“Die boere van Steynsburg is ook aangemoedig om hul vrouens te bederf met die dag tussen vroue, en so erkenning te gee aan wat elke boer se vrou vir hom beteken!” vertel Cloete.
“Dit was ’n fees van vrouwees, met baie glans!” sê Sanet Coetzer, ’n boervrou van Hofmeyr wat haar Karoovrou Chilliprodukte uitgestal het.
“Die kos was pure smul, ’n fees vir die siel, en die geskenke vanaf BKB en Catrice Cosmetics het elke vrou soos ’n koningin laat voel.
Keurige wyn, skoonheidsprodukte en heerlike verrassings het gesorg vir ’n onvergeetlike dag. Dit was ’n dag van lag, liefde, en samehorigheid, en ons sal dit lank onthou.”
Karen Barnhoorn, wat die uitstallers uitgenooi het, het puik terugvoer ontvang van nege uitstallers, wat die geleentheid gebruik het vir aktiewe bemarking en die opbou van netwerkskakels.
Elisma de Jager se soetsuurdeegbrode het almal huis gekry, Caity Lord se keurige koffies het groot aftrek geniet, Anneke Botha van Middelburg se produkte het goed verkoop, en leerprodukte en kerse was ook beskikbaar.
Die BKB het gesê dat hy, getrou aan sy waarde van vennootskap, graag met trots geleenthede ondersteun wat vroue en die gemeenskappe wat ons bedien, ophef, verenig en bemagtig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’