STEYNSBURG NUUS - Inwoners van Steynsburg is bitter ongelukkig met die swak dienslewering deur die Walter Sisulu-munisipaliteit in die dorp.
Reisigers wat vanaf Bloemfontein oor Steynsburg reis, was nog tot onlangs, wanneer hulle die R56-afrit na Steynsburg geneem het, onseker of verkeer deur die dorp moontlik sou wees.
Betogers het bande en boomstompe gebrand, asook klippe op die roete gepak. Ongeveer 23 betogers is in hegtenis geneem, maar later op borgtog vrygelaat.
Dr. Johan van Rooyen, veearts by die Steynsburg-dierehospitaal, het in 'n gesprek met Graaff-Reinet Advertiser gesê dat die sluiting van die R56 nie meer plaasvind nie. Dit was 'n voorwaarde vir die aangehoudenes se borgtog.
Van Rooyen sê hy ry al vir drie weke die swart sakke weg en maak die dorp skoon. Kragprobleme word nie aangespreek nie as gevolg van dreigemente. Die betogers dreig nou ook munisipale werkers en het die munisipaliteit gesluit.
"Die ware storie is egter dat die gemeenskap gatvol is vir die wyse waarop dienste, poste, geriewe en fondse uit die klein dorpies getrek word en die groot dorpe soos Burgersdorp en Aliwal-Noord bevoordeel."
Van Rooyen sê hy stem 100% hiermee saam, alhoewel hy die optrede van betogers afkeur.
Nepotisme en swak diens
Daar is onder andere ongelukkigheid omdat die munisipaliteit geen na-uurse nommer vir water- en kragprobleme het nie, en ook geen terugvoer gee nie.
Daarbenewens is die gemeenskap woedend oor die aanstelling van 'n personeellid van Aliwal-Noord in 'n munisipale pos in Steynsburg, ondanks die dorp se hoë werkloosheidsyfer.
Daar word beweer dat die aangestelde persoon familiebande in die hoër geledere van die munisipale administrasie het, wat ernstige kommer wek oor die regverdigheid en deursigtigheid van die werwingsproses.
Op 14 Februarie het Marina van Zyl, lid van die parlement en DA-kiesafdelingsleier in die New Horizon-distriksmunisipaliteit, die burgemeester van die Walter Sisulu-munisipaliteit, Vania Davids, versoek om in te gryp, en verantwoordelikheid vir dié probleme te aanvaar.
"Steynsburg word tot stilstand gebring, wat noodsaaklike dienste soos ambulansdienste, instandhouding en munisipale bedrywighede benadeel.
"Inwoners, sake-eienaars en toeriste word almal geraak deur die onrus, wat 'n reeds sukkelende plaaslike ekonomie verder onder druk geplaas het," het Van Zyl gesê.
Sy het Davids versoek om met Steynsburg-inwoners te vergader, duidelikheid te verskaf oor die beweerde nepotisme en beslissende stappe te neem om orde en dienslewering in Steynsburg te herstel.
"Die inwoners van Steynsburg verdien bekwame leierskap wat hul behoeftes prioritiseer, regverdige en deursigtige bestuur verseker en die basiese dienste handhaaf waarop elke landsburger geregtig is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’