CRADOCK NUUS - Die ATKV-Bergkwagga Jeugtak by Hoërskool Cradock het op Woensdag 15 April sy eerste kunsuitstalling gehou.
Die uitstalling was die eindproduk van ’n kunskompetisie wat vroeër vanjaar geloods is en het gedien as ’n platform vir leerders om hul kreatiwiteit en talente ter viering van Wêreldkunsdag ten toon te stel.
Daar was ’n verskeidenheid indrukwekkende kunswerke wat die unieke perspektiewe en vaardighede van Cradock Hoërskool se leerders in vier kategorieë weerspieël het.
Bekende plaaslike skilder Lou Venter het saam met Jaco de Waal en Zanelle Weitz as beoordelaars opgetree en met kundigheid en insig opbouende kritiek gelewer.
Die ATKV-Bergkwagga Jeugtak het al die rolspelers vir hul belangrike bydraes bedank: Die beoordelaars wat tyd afgestaan het om inskrywings te beoordeel, die hoof van Cradock Hoërskool, Anthony Kitching, vir die addisionele kunswerke wat hy beskikbaar gestel het, Trip’n wat heerlike verversings bygedra het, asook Shané de Beer, Zanelle Weitz en die ATKV-taklede wat al die reëlings en organisasie hanteer het, en laastens die Nxuba-fotograaf Angelique Hagan wat die herinneringe vasgelê het.
Toekennings
Sertifikate vir bogemiddelde prestasie is toegeken aan Suél Laas, Daniël van der Merwe, Mienke Meyer, Amelia King, Ashley Müller, Dwight Kordom, Johannes Barkhuysen, Anina Slabbert, Jiovan de Gouveia, Telisa van Rooyen, Ciana Spinola, Jayden Ackerman en Nadia Blom.
Spesiale toekennings is aan die wenners oorhandig. Die wenner van Kategorie C en D (Gemengde Media en 3D) was Telisa van Rooyen. Die algehele tweede plek asook beste potloodsketse in kleur is deur Jayden Ackerman ingepalm, en die algehele derde plek is aan Ciana Spinola toegeken.
Eerste plek in Kategorie A en B (Sketse en verf) asook algehele wenner van die kunskompetisie was Nadia Blom.
Die ATKV-Bergkwaggas word gelukgewens met ’n puik kunsuitstalling, wat bewys het dat buitengewone kreatiwiteit by Hoërskool Cradock floreer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’