ABERDEEN NUUS — Dr Jack Finestone, bekende kinderspesialis van Jeffreysbaai, en sy broer, Edward, het die afgelope naweek ‘n paar dae sy ou tuisdorp, Aberdeen besoek.
Hulle was die gaste van hul ou skoolmaat Gina de Beer.
Daar is heerlik gesels en gekuier met besoeke aan al die ou skoolmaats en vriende soos Archie Marx, Estelle Snyman, Willie Erasmus, Jack Rich, Padgie Pienaar en Rita van Niekerk, suster van oorlede Jat van der Vywer.
Verskeie bekendes in die dorp het hom herken as die pediater wat in die verlede hul ernstige siek kind behandel en gesond gemaak het.
‘n Heerlike middagmaal is ook by die weldoener David Millar geniet saam met Gina, Jack Rich en John en Jean Watermeyer.
Dr Jack het in 1951 aan die Hoërskool, Aberdeen gematrikuleer en daarna na die Pretoria universiteit gegaan om hom as mediese dokter te bekwaam.
Gedurende sy skooljare verloor hy sy vier jarige sussie toe sy in Hoopstraat deur ‘n vragmotor noodlottig getref was.
Sy vader verloor hy op jong ouderdom en gedurende sy tweede studiejaar verloor hy ook sy moeder as gevolg van ‘n terminale siekte.
Dit was ‘n krisistyd in sy lewe want daar was nog op skool ‘n sussie en vier broertjies, Sylvia, Edward, Norman, Solly en Davy. Gelukkig kom tot sy redding Rem de Beer en sy moeder tannie Kotie wie al die Finestone wesies onder hul sorg geneem het.
‘n Hegte vriendskapsband ontwikkel tussen Rem en Jack wat steeds gegroei het tot Rem se heengaan in 2012.
Na voltooïng van sy studies open hy ‘n praktyk te Klipplaat maar gaan na ‘n jaar terug na Pretoria om hom as kinderspesialis te bekwaam.
Hy aanvaar ‘n pos te Uitenhage hospitaal waar hy sy eggenote Dons Dodds ‘n verpleegsuster ontmoet en in die huwelik tree. Vier kinders is uit die huwelik gebore, Brett, advokaat te Kaapstad, Juanita, lektrise aan die universiteit van Grahamstad, Phillip, bekende oogspesialis te Eye and Laser Kliniek te Port Elizabeth en Robert, tans in Australia.
Hy vestig hom te Port-Elizabeth en later op Jeffreysbaai. Sy eggenote se gesondheid kwyn en hy trek terug na Port-Elizabeth en bly naby sy seun Phillip op die kleinhoewe te Sardiniabaai.
Hy verloor sy eggenote ‘n jaar gelede maar op 84-jarige ouderdom gaan hy nogsteeds op Maandae, Woensdae en Vrydae na sy Jeffreysbaaise spreekkamers om siek kindertjies te behandel.
Aberdeen is voorwaar trots op dié Aberdeen-seun wat swaarkry oortref het, maar ‘n sukses van sy lewe gemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Aberdeen, Karoo nuus'