MIDDELBURG NUUS - Middelburg-toerisme het onlangs die bekende bemarker Jens Friis van Philippolis genooi om as gasspreker op te tree by hul algemene jaarvergadering.
As stigter van die Facebook-blad "Great Karoo" - wat bykans 100 000 volgelinge het - en bemarker van verblyf in Philippolis, is Friis die ideale persoon om oor toerisme-bemarking en veral sosiale media te gesels.
Friis se wortels lê diep in die Karoo; sy ma se mense rus in Middelburg en Nieu-Bethesda se begraafplase en hy het in Philippolis gematrikuleer.
Dis ook hier waar hy en sy lewensmaat Niel de Leeuw kon gaan aftree toe Covid toeslaan nadat hulle die wêreld oor gewoon en gereis het.
Jens en Niel bedryf deesdae die sewe Philippolis Groenhuis Gastehuise wat Jens 'n kwarteeu gelede saam met sy ouers begin het.
'n Hoofbron van gaste vir hul gastehuise is Jens se Facebook-blaaie, waaronder Great Karoo en Reis met Jens, wat altesaam sowat 150 000 volgelinge het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’