HOFMEYR NUUS - Babas arriveer graag snags, dis 'n feit! En so het die 16-jarige Phelokazi Charlie van Hofmeyr ook uitgevind.
Sy was heel gerus nadat sy Woensdag 5 April by die kliniek was, want daar is sy verseker dat haar baba eers teen 19 April sal opdaag.
Sy het dus besluit om die Paasnaweek op die plaas by haar vriend, die baba se pa, te gaan kuier.
Met die eerste tekens dat die baba op pad is, net na middernag, Saterdagoggend, 8 April, is die ambulansdiens, waarvan die hoofkantoor in Komani is, geskakel en is daar beloof om die naaste ambulans so spoedig moontlik te stuur.
Toe daar egter teen 02:30 nog geen ambulans in sig was nie, het die pa na die bure gehardloop, en gevra dat hulle weer die ambulansdiens bel.
"Ja nee, die ambulans is uitgestuur, het dit nooit arriveer nie?" vra die operateur toe.
"Dan gaan ons die ambulans moet soek!"
Na 'n wyle het die operateur laat weet dat die ambulans 'n pap wiel gehad het, maar nie 'n spaarwiel het nie. 'n Ambulans is toe van Cradock gestuur - sowat 120 km van die plaas. Teen 03:15 het die ambulans gekom en Phelokazi is gelaai.
"Ek was so haastig, ek het skoon vergeet om vir haar klere saam te stuur," vertel haar vriend. "Gelukkig het sy so met die verbygaan die plastiese sak met die babaklere gegryp."
Chantel was egter haastiger as die ambulans en sy het haar eerste asemteug geneem voor hulle Hofmeyr bereik het. Bygestaan deur die ambulanspersoneel het sy veilig die eerste lig aanskou en kon in haar mamma se arms saamry tot in Cradock, waar hulle in die provinsiale hospitaal opgeneem is. Chantel het 'n gesonde 2,4 kg geweeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’