GRAAFF-REINET NUUS - Laer Volkskool se sportvelde het omtrent gewemel van klein voetjies by Weppie Preppie se jaarlikse atletiekdag die pas afgelope Saterdagoggend, 9 Maart.
Groot geesdrif het die oggend geheers - nie net by die kleuters wat deelgeneem het nie, maar ook onder die pappas, mammas, oupas en oumas en ander belangstellendes wat die kleuters aangemoedig het.
“Die vroeë-oggend motreëntjie het niemand afgesit nie en die dag het piekfyn verloop,” sê skoolhoof Elene Lesch.
Die dag het soos gewoonlik vir groot opwinding gesorg toe die kleintjies van so jonk as 3 jaar kragte op die atletiekbaan gemeet het.
Die kleuters het met oorgawe deelgeneem aan die naellope, hekkies, boontjiesakgooi en ander aktiwiteite.
“Die verskillende items is weer in rondomtalie -verband aangebied, wat dus beteken het dat elke kleuter aan al die items kon deelneem,” sê Elene.
“Baie dankie aan almal wat die punte beman het, die lede van die OOV wat uitgesonder kan word vir hul flink en vriendelike behulpsaamheid, en die ouers wat hul Saterdag so opgeoffer het vir die jeug!” sluit Elene af.
Na afloop van al die verrigtinge, is al die kleuters met ‘n medalje beloon waarna hulle met ‘n glimlag en ‘n moeë lyf huiswaarts gekeer het.
Die Weppie Preppie-leerders het hul kreet met oorgawe gedoen.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'