ASHERVILLE NUUS - Die Eagles Sportklub in Asherville het Saterdag 1 November 'n netbaltoernooi in Graaff-Reinet aangebied ten bate van die Graaff-Reinetse kankervereniging.
Volgens die organiseerders, klubvoorsitter Marco Gerald Dampies en bestuurder Cynthia Jaftha, was die doel om bewustheid van kankerlyers en kankersorg te skep.
Ondersteuning waardeer
“Altesaam sewe Graaff-Reinetspanne het ingeskryf, maar drie spanne het ongelukkig kort voor die die toernooi onttrek, weens verskeie redes,” sê Dampies.
“Die Central Netball Club het wel nie die geleentheid bywoon nie, maar het steeds hul inskrywingsfooie ten volle betaal, en daarvoor het Eagles Sportklub groot waardering.”
Die spanne wat die geleentheid in beide liggaam en gees bygewoon het, was die Eagles Sportklub, Redlife Netbalklub en die Summer Strikers Sportklub.
Altesaam R800 is gedurende die toernooi ingesamel en kon aan die plaaslike kankervereniging oorhandig word.
Borge bedank
“Geen aanbieding van hierdie formaat is moontlik sonder borge nie, en verskeie borge het betrokke geraak.
Ons klub is dankbaar vir die ondersteuning, veral op kort kennisgewing,” sê Dampies.
Hy het die volgende borge bedank: NommerPas Skoenwinkel, Blue Sky Express Wifi, Pick n Pay, raadslid Nathan Jacobs, Bernard van Heerden, Natasha Jooste, Zadius Welman en Nicky Barnard, die bestuurder van gemeenskapsdienste van die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit wat die netbalbane beskikbaar gestel en voorberei het.
By navraag het Dampies gesê dat die uitslae nie gepubliseer word nie. "Die saamspeel was die wenner van die geleentheid," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’