GRAAFF-REINET NUUS - Te midde van die geluide van die straat se besige verkeer en voetgangers wat verbyloop, vind 'n kunstenaar van Graaff-Reinet 'n magiese stilte waarin hy sy kuns kan beoefen.
Aubrey Marais (51) neem weggooihoutstukke en ou linne en skilder dan pragtige kunswerke daarop.
"Ek het 'n kwas vir die eerste keer opgetel toe ek 19 jaar oud was en sedertdien is dit 'n passie vir my," sê hy. "Geld was maar nog altyd skaars, so ek skilder op enige bruikbare materiaal wat oor my pad kom."
Sy ateljee is enige plek waar hy homself bevind, al is dit nou ook op 'n besige straathoek.
"Ek raak so verlore in my werk, dat ek vergeet dat ek dalk in die middel van 'n bedrywige sypaadjie sit," sê Marais.
"Ek het onlangs besluit om na Graaff-Reinet te verhuis om nader aan my kinders te wees en só het dit toe gebeur dat ek al die pad vanaf die Kaap geryloop het tot ek my uiteindelik verlede week in Graaff-Reinet bevind het," vertel Marais.
"Die inspirasie vir my kuns kom uit my binneste. Al wat ek nodig het is 'n prentjie in my kop en dan begin ek werk." Marais, wat meestal landskappe skilder, maak skilderye ook op bestelling en gaan binnekort aan 'n prent van Spandauskop begin werk. Marais verkoop sy kunswerke teen baie billike pryse. Enigeen wat belangstel, kan Erika Vers by 082 582 6579 kontak.
'Ons bring jou die nuutste Graaff-Reinet, Karoo nuus'