KAROO NUUS - In die Oos-Kaap wonder baie inwoners watter misdaad word volgende gepleeg. Inbrake by toeriste se voertuie, bedelaars wat op toeriste toesak, kinders wat dag en nag by toeriste se voertuie kom staar vir kos of geld, en dan die onlangse ontvoerings, wek kommer oor die toekoms van toerisme in dié deel van Suid-Afrika.
Ekonomiese groei
Leander Kruger, skadu-LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme in die Oos-Kaap sê dit bly noodsaaklik om na te dink oor die geleenthede wat hierdie lewendige sektor vir die provinsie bied. Kruger het die plaaslike parlement op 30 September meegedeel dat die Oos-Kaap, met die derde hoogste toerisme-inkomste in die land, op 'n kritieke mespunt balanseer. Sy sê toerisme is onderontwikkel en sleutelinfrastruktuur verwaarloos.
Saamwerk
"Toerisme moet die ruggraat van ons ekonomie wees, maar dit kan slegs gebeur as die provinsiale regering, die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme en die parke- en toerisme-agentskap saamwerk. Pad- en infrastruktuurontwikkeling na sleutelgebiede en toerismebestemmings moet geprioritiseer word. Die verbetering van toegang kan meer besoekers lok en werk skep," sê Kruger.
Veiligheid
Veiligheid is krities belangrik. "Die Oos-Kaap, veral gebiede soos die Wildekus, staar toenemende kommer oor veiligheid in die gesig, wat die welstand van toeriste bedreig en die lewensbestaan van die toerismesektor in gevaar stel," sê Kruger.
Uitvoerbare planne
Besoekers se veiligheid is net so belangrik as om die provinsie se skoonheid en kulturele rykdom te bevorder.
Daar is reeds 'n beroep gedoen vir die skep van 'n interdepartementele taakspan om 'n uitvoerbare plan te ontwikkel om die infrastruktuuruitdagings wat die toerismesektor in die gesig staar, aan te spreek.
So 'n plan moet die wedersydse voordeel vir alle belanghebbendes demonstreer en wys hoe belegging in infrastruktuur nie net toerisme dien nie, maar ook skole, klinieke, hospitale en breër plaaslike ekonomiese ontwikkeling.
Dorpies geniet voordele
Die afgelope twee naweke het klein dorpies in die Oos-Kaap hierdie voordele beleef toe Hofmeyr 'n suksesvolle 150-jarige bestaansfees gevier het, en Middelburg sowat 700 besoekers gehuisves, onthaal en blootgestel het aan besienswaardighede tydens die Ride the Karoo-fietsrenuitdagings.
Bevorder vennootskappe
Die Oos-Kaap moet 'n doelgerigte toerismeveldtog in vennootskap met privaat instansies begin. Distriksmunisipaliteite beskik oor toerismeverteenwoordigers, maar baie van hierdie mense was nog nooit as'n toeris in enige van die kleiner dorpies wat onder die distrik val nie. Deur sterk vennootskappe onderling te bevorder en parke, reservate en kulturele landmerke te verbeter, te bemark en te beveilig, kan die Oos-Kaap geposisioneer word as nie net die tuiste van legendes nie, maar dié toerismebestemming in Suid-Afrika, aldus Kruger.
Gee aan plaaslike inwoners die mag om hul eie omgewing te bemark, te verfraai en vir hulself en hul dorp 'n inkomste te skep uit toerisme, en die impak op die Oos-Kaap sal gou 'n sigbare verskil maak.
Aksie is nodig
Allesoorheersend is 'n omvattende benadering tot veiligheid wat noodsaaklik is om besoekers te lok en te behou. Dit sluit in die verbetering van die sigbare polisiëring, samewerking tussen wetstoepassing en plaaslike gemeenskappe, en die skep van effektiewe kommunikasiekanale.
Kruger sê die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, moet die veiligheids- en infrastruktuuruitdagings aanspreek. "Maak die Oos-Kaap 'n veilige en verwelkomende bestemming. Toerismemaand moet nie bloot 'n viering wees nie. Aksie is nodig. Deur infrastruktuur en samewerking te prioritiseer, kan die Oos-Kaap die toerismesektor se potensiaal ontsluit en ekonomiese voordele bring."
Die skilderagtige Groot Doornhoekpas oor die Bamboesberge, al langs die loop van die Vlekpoortrivier lok fietsryers stappers, voëlkykers en fotograwe van oral af.
Die ou Dopperkerkie in Hofmeyr sal een van die dae 'n nuwe jassie dra. Foto: Teresa Opperman
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’