ABERDEEN NUUS - Die afgelope week was voorwaar ’n groot week vir Aberdeen, want dit is ook bekend gemaak dat Caylane Kombani (26), wat grootgeword het op Aberdeen en tans ’n fasiliteerder in Hopetown is, in die tydskrif Kuier se Suidooster Lookalike-kompetisie deur lesers aangewys is as die persoon wat die meeste lyk na die bekende TV-ster Lauren Joseph, wat die rol van Zoë October in die gewilde sepie Suidooster op kykNET en kykNET & kie vertolk.
Lauren se vurige, stylvolle en vasberade karakter Zoë is bekend vir haar werksetiek, ambisie in besigheid by Jacobs Property Developers, en haar rol as die “prinses van Ruiterbosch”.
Sy word dikwels gesien as ’n vrou wat deurdruk, en haar sê sê en altyd streef na ’n beter lewe ten spyte van ’n moeilike verlede in Riversdal.
Caylane het in Desember na Kaapstad gereis waar sy saam met Lauren op die stel van Suidooster moes poseer vir foto’s, waarvan twee op die voorblad van Kuier se jongste 15 Januarie-uitgawe pryk.
Dié uitgawe is reeds sedert Vrydag op die rakke, hoewel nog nie in Aberdeen nie. Kuier het die voorblad op hul sosiale media-platforms gedeel en vertel dat Caylane geblom het voor die kameras en dat ’n volledige onderhoud met haar in hul jongste uitgawe verskyn.
Dié tydskrif is tans die grootste Afrikaanse vrouetydskrif in Suid Afrika, en Caylane het onmiddellik roem verwerf!
“Die span van Kuier het my gebel om my mee te deel dat hulle ’n shoot met van die finaliste in die Kaap gaan doen.
Toe ek by die shoot kom is ek meegedeel dat ek op Suidooster se stel is! Later het Lauren self die nuus met my gedeel dat ek die wenner van Kuier se Suidooster Lookalike-kompetisie is.
En ek kon selfs Suidooster-karakters soos Kaashifa (Jawaahier Petersen), Bridgitte (Denise Newman), Wade (Dean Smith) en pastor Siya (Gantane Kusch) ontmoet.
Tydens die shoot met Lauren het ek toe nog nie geweet dat ek op die voorblad gaan wees nie.
Eers ’n dag voor die tydskrif in winkels was het hulle gebel en my verras met die nuus dat ek op die voorblad van Kuier se 15 Januarie-uitgawe gaan wees.
Ons was almal saam opgewonde,” vertel Caylane, waar die Graaff-Reinet Advertiser met haar ’n telefoniese onderhoud kon voer, terwyl sy met die bus op pad was na Hopetown, waar sy skool hou.
“Op Vrydag 9 Januarie toe Kuier om 06:00 die wenner van hul Suidooster Lookalike-kompetisie op hul sosiale media-platforms aangekondig het, het ek uit die bed gespring en almal wakker geskree!
Ek kon nie glo dat dit ek op die voorblad is met die beroemde Suidooster-ster Lauren Joseph, beter bekend as Zoë October nie.
Ek het gehuil van blydskap en dankbaarheid. Alles voel steeds baie onwerklik en ek is dankbaar vir die vertroue wat Kuier, Suidooster en African Extracts Rooibos in my gehad het.
Dankie ook vir elke stem, elke motiverende boodskappie, elke sosiale media-plasing,” sê ’n borrelende Caylane.
Dié onnie wen as deel van haar wenprys R5 000 én ’n velsorg-hamper ter waarde van R1 000 van African Extracts Rooibos. En dis nie al nie.
Sy gaan ook gesig wys in haar gunsteling-sepie Suidooster!
Caylane beskryf haarself as ’n liefdevolle, opregte, emosioneel intelligent, gelowige en passievolle mens.
Dié humoristiese jong vrou het altyd ’n glimlag op haar gesig.
Sy sê sy praat graag uit haar hart en staan op vir dit waarin sy glo. “Ek het ’n sagte hart agter ’n sterk buitekant.
“My voorkoms is vir my baie belangrik, want as jy goed lyk, voel jy goed, en as jy goed voel doen jy goed!”
Die Kombani-gesin is ywerige Suidooster-kykers en Kuier-lesers.
“Ons geniet al die lekker wenke, stories oor loopbane, verhoudings, mode, skoonheid, dekor en kosblaaie. Ons lees ook graag die Graaff-Reinet Advertiser.
Dié online nuus uit my kontrei is vir my kosbaar.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’